2 maande gelede
Wintertyd op paaie
mal! Dis ’n zoo op ons paaie in die winter. Party bestuurders laat my aan slakke dink. Kan oor die spreekwoordelike razor glide. Foto: blender.com  ~ 

DIÉ winter voel ek wragtag soos Bill Murray in Groundhog Day.

Stuck in ’n dag waarin ek dieselfde ding oor en oor beleef.

Met ’n verskil. Want in dié time loop voel dit asof ek oor en oor na die dieselfde natuurprogram op die Discovery Channel kyk.

Ek sien die gediertetjies op die pad in die nattigheid, en hulle doen dieselfde ding oor en oor en oor.

Het jy geweet ’n gewone tuinslak kan oor ’n razor blade gly sonder om gesny te word? Maar ’n bietjie sout of gebreekte eierdoppe en dis klaar met kees.

Nes party onsekere bestuurders in hulle Sparkies of Getzies. Hulle glide ook so stadig en baie erratic op die pad.

En sodra daar ’n druppel op ’n voorruit val of daar is ’n riffel in die pad, raak hulle verbouereerd en stupid en maak ’n ongeluk.

En dan is daar die shrews (vir dié wat nie weet nie, ’n lid van die krimpvarkfamilie). So klein, hy pas in jou handpalm.

Maar die klein etters maak op vir hulle size met die slagtande van ’n sabeltandtier en ’n humeur soos ’n atoombom op tik.

Hulle is boonop geseënd met ’n byna bonatuurlike spoed en ratsheid.

Spyker

Hulle leef net ’n paar maande en ál wanneer hulle nié fight nie, is terwyl hulle vreet. En in die laaste paar weke van die mannetjies se kort lewe, spyker hulle hulself letterlik dood.

Amper nes daai Opel Corsa- of Nissan NP200-laities met die agterstevoor base­ball-keppies.

Dis laities wat aggressief deur die verkeer vleg, sonder indicators voor jou injaag en vir jou die middelvinger gooi en onverwags briek trap as jy durf waag vir hulle flash.

Die lewensverwagting van dié mannetjies kan ook taamlik kort wees ...

Dan is daar die seekatte. Die witjasse sê die lede van die octopus family is slimmer as kraaie (die slimste voël in die diereryk).

As hulle een ou tentakeltjie deur ’n gat kan wriemel, is die kanse 100% dat hulle hul hele lyf daardeur sal kan wriemel. En so ontsnap die ettertjies uit akwariums.

Kyk, as hulle die uitslag van die final van die Wêreldbeker-sokkertoernooi kan voorspel, moet hulle seker slim wees.

Maar weet jy wat? Die maklikste manier om ’n seekat te vang, is om ’n lig in sy rigting te skyn, veral ’n rooi lig. Hulle is so nuuskierig, hulle sal nader kom tot teen die rooi lig.

Hulle laat my dink aan die yummy mammies in daai wit Fortuners.

Superintelligent, maar ’n rooi lig is blykbaar hulle kryptonite.

Zoo

Ek het dié week ná drie ophou tel hoeveel yummy mammies ’n rooi lig in die reën geskip en my amper uitgehaal het.

Dit gebeur veral daar in Yummy Mammie Valley, oftewel Durbanville.

Die winter is letterlik ’n zoo hier op die teer in die Kaap.

’n Perpetual loop van idiocy wat oor en oor en oor draai in die animal kingdom van die pad.

En dan noem ons onsself die “slim aap”!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters