Verlede maand
Wees wys oor karkoop
Tweedehands: Gaan beslis die motor se diensrekord na.Foto: istockphoto  ~ 

AS JY ’n motor tweedehands wil koop, is hier ’n paar wenke van finansies.solidariteit.co.za oor hoe om te werk te gaan.

Koop eerstens by ’n betroubare handelaar.

Daar word van handelaars verwag om te verseker dat die voertuie wat hulle verkoop wettig en van goeie gehalte is.

Daar is egter nie altyd waarborge nie en dit is dus steeds noodsaaklik om ál die nodige inspeksies en toetse te laat doen om te verseker jy koop ’n wettige voertuig van hoë gehalte.

Of jy ’n voertuig by ’n handelaar of privaat koop, is dit noodsaaklik om ’n basiese agtergrondondersoek te doen om te verseker die motor is nie gesteel nie. Dié ondersoek hou hoofsaaklik verband met die Vin-nommer. Elke voertuig het sy eie, unieke Vin-nommer.

Maak seker dat die Vin-nommer op die motor ooreenstem met die nommer op die registrasie- en padvaardigheidsdokumente. Maak ook seker daar is nie met die nommer gepeuter nie.

Slim

Gaan ook die voertuig se diensrekord na.

Ander belangrike nommers wat nagegaan moet word, is die onderstel- en enjinnommer.

Indien dit nie ooreenstem met die nommers op die registrasiedokumente nie, kan dit beteken daar is met die motor gepeuter of dat dit uit gesteelde onderdele opgebou is.

Wees slim.

Voordat die Wet op Verbruikersbeskerming in werking getree het, was verbruikers se regte beperk rakende die koop van ’n tweedehandse motor.

Daardie tyd is motorvoertuie voetstoots verkoop.

Hiervolgens het die verkoper geen verantwoordelikheid aanvaar vir enige probleem wat die motor betref nie.

Kragtens die verbruikerswetgewing is die voetstoots-klousule nie meer ten volle afdwingbaar nie.

Volgens die AA geld die wet se beskerming nie as jy by ’n privaat verkoper koop nie. Die transaksie kan nog in so ’n geval voetstoots wees.

Dit is dus wys om ’n tweedehandse voertuig wat by ’n privaat individu gekoop word na ’n privaat assessor te neem om te ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters