Verlede maand
Vermy die malligheid
road trip: Vat dié vakansie die road less travelled deur die Noord-Kaap. Kyk na die blou. Foto’s: albert bakkes/vrou  ~ 

PRETORIA. N14 Wes. Ventersdorp. N12 Suidwes.

Klerksdorp. Hou aan op die N12 deur die ou Wes-Transvaal. Bly op die N12 Suid, op pad na Warrenton. Bloemhof. Christiana. Moenie stop in Kimberley nie. Ry deur. Strydenburg wat die stryd (teen homself) verloor het.

Slaap op Britstown in die middel van die land en die Moordenaarskaroo.

Snorstad

Staan vroeg op saam met die voëls (en die hitte).

Vosburg. Calvinia. Williston. Vanrhynsdorp. Vanrhynsdorppas, waar jy afklim van die Karoo-eskarp.

Mik vir Ceres. Join die N7 op pad na Kaapstad en klim af vir Durbanville.

Dan het jy jou destination bereik.

Dié pad gaan Vrou en ek van Snorstad vat, net so duskant Krismis.

Maar nou kan jy vir my vra: Wat de hel soek ek ’n pad van Pretoria anyways? Ek is dan hier in die Kaap.

Wel, hoekom vat jy nie my route map en reverse hom all the way Noorde toe nie?

Dis nóú die tyd vir epic road trips. En baie mense vat hulle. Maar miskien nie die regte roetes nie.

Die N1 is ’n absolute nightmare dié tyd van die jaar, met veral lorries (en long distance taxi’s en busse) wat die mees f-upped dinge op die langpad doen – veral die stretch tussen Laingsburg en Beaufort-Wes.

Elke keer as ek en Vrou byvoorbeeld op Britstown oorslaap en ons eerste oggendkoffie in die kar sluk, hoor ons op die radio (ses­uur die oggend) dat Beaufort-Wes, ja, Beaufort-Wes, gridlocked is en mense in hulle voertuie queue.

Ons nie. Ons vat die road less travelled, met die agterpaaie daar deur die Noord-Wes, en die tamaai Noord-Kaap, deur streke met verskriklik hartverskeurende mooi name soos die Groen Kalahari, Bo-Karoo, Moordenaarskaroo en Hantam.

Ons vermy die travel crazy ma’s en pa’s wat in hulle wit Fortuners (en obligatory Venter-sleepwa/karavaan) met hulle moeë, skreeuende kinders op die groot feeder routes sit, going no­where slowly.

Inteendeel, in daai deel van die land hoef ons nie ’n Wimpy- of Steers-burger van ’n dag oud te eet nie. Wat jy wel kan eet, is properse kerrie-skaapafval by ’n oase in die middel van die woestyn/ery. Die bier is nét so koud hier. En as jy wel ’n siel ontmoet, is daai siel in die meeste gevalle die vriendelikste siel op aarde. Reg om ’n geselsie aan te knoop, want jy is die eerste stranger wat die siel waarskynlik in maande gesien het.

Maar in die meeste gevalle het ons die plek ure lank vir onsself.

Die plek is só tamaai en alleen dat jy volgende week kan sien aankom.

Die blou lug is so wyd soos die Heer se genade. Maar dié plek is nie ’n plek vir sussies nie. Klein dorpies gaan voor jou oë dood. Elke jaar, net leër en meer vervalle as die vorige jaar.

Slim

En jy sien waar mense se drome in sy moer lê in die stof en kliprante, op die plase en die dorpe.

So, as jy my road trip-aanbod sou aanvaar, moet jy net slim beplan.

Maak seker jou kar is in ’n volle werkende toestand (jou spare ook). Met genoeg water vir die siele in die kar en die kar self. Want as jy hier gaan staan, is dit miskien tickets ...

Merk op ’n kaart uit waar jy gaan brandstof ingooi, want die afstande is ver, en in sekere gevalle het baie dorpe selfs essentials verloor soos pompe. En vir lang stretches is hier nie ’n signal van ’n dag oud nie.

En pak padkos in vir ál die siele in die kar.

En stop onder ’n boom, kyk na die blou, haal die Tupperware uit, luister na die sonbesies en kry rus vir jou siel.

Glo my, dis beter as enige vakansie by die see ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters