5 maande gelede
Tyres pap ná Satan se pad

EK HET mos nog kort voor Krismis vir julle ’n roete neergepen van ’n epic road trip deur die minder bekende dele van ons land.

So kronkelend deur die ou Wes-Transvaal, die Groen Kalahari, die Noord-Kaap en die Moordenaarskaroo, deur klein dorpies en verby verskroeide plase waar drome moer toe lê in die stof.

Dis ’n baie lang en eensame roete, maar my en Vrou se gunsteling, want dan vind ons weer ons siel en ’n bietjie vrede ná die malligheid van die festive season en die gevreesde en gevaarlike N1 van Pretoria tot in Slaapstad.

Maar toe nie...

Want dié keer het daar ’n groot swart hond voor my deur kom blaf.

Nee, die spreekwoordelike swart hond van depressie nie, maar ’n werklike groot swart hond genaamd Luke.

Ons jong Great Dane, ál 70 kg van hom, het Boxing Day, die dag voor ons vertrek vir die twee dae lange road trip, gekies om siek te raak.

Ek weet nie of die bliksem iets van die tafel af gesteel het nie. Dis heel moontlik, want hy sit daai reuse-krokodilkop met gemak op die kitchen counters.

Hoe dit ook al sy, die teenager was so siek soos... wel, ’n hond.

Planne

En soek nou ’n veearts op die dag ná Krismis!

Ons moes toe maar die 28ste ry om die 29ste hier aan te kom, want ek moes Sondag die 30ste werk.

En só val al ons romantiese planne van sexy times in die Moordenaarskaroo in die as. Want die vinnigste pad Kaap toe is natuurlik die gewraakte N1.

Dié is die res van die jaar klaar die grusaamste pad. Maar in die feestyd word dit ’n pad deur die poorte van die hel self.

En só soen ons toe die siek maar herstellende hond koebaai, sien hom by sy mensevriend af en vat die pad.

Ek het reeds vroeg in die crisis management meeting besluit ek gaan sommer die grootste hap van die pad van die bose op die eerste dag afhandel en deurdruk na Beaufort-Wes, waar ek mense ken.

En agter die stuur moes ek my oë kort-kort knip. Nie van moegheid nie, maar weens die talle oomblikke wanneer ek nie kon glo wat hulle nou sien nie.

Lorries drie in gelid wat mekaar op ’n tweebaanpad verbysteek.

Mense in luukse Duitse tenks wat teen 2 miljoen km/h kop aan kop op jou afpyl in jou klein Datsun Go en die wette van physics breek deur jou rakelings te mis.

Lorries wat jou dice om te sien wie die eerste oor ’n blinde heuwelkruin kan kom as jy hulle op die regte plek probeer verbysteek.

Op ’n kol net anderkant Colesberg het ’n biertrok ook besluit om sy load in die pad te dump.

Dit klink dalk na ’n jol – maar nie vir die ou en sy gesin in hulle splinternuwe Fordjie net agter die trok nie.

Gelukkig is niemand beseer nie. Maar shame, die man het daai Ford twee weke voor Krismis splinternuut gekoop.

En die lys gaan aan dat hy later amper so lank soos die pad is ...

Gelukkig het ons lafenis gekry by my vriende Almarie en Tiekie, eienaars van Little Green World, toe ons uiteindelik uitgemergel en bewerig daar op Beaufort-Wes uitklim.

Doodsvrees

En Deon van 4 Sheep het ons koue biere en (baie) warm Karoo-skaaptjops gevoer. As dit nie vir dié mense se goedheid was nie, dink ek nie ons het die volgende dag lewend in die Kaap aangekom nie.

En ná al die helse excitement en doodsvrees het daar toe die laaste paar dae ’n groot swart hond voor my deur kom blaf. En nee, dit was nie Luke nie. Dit was wragtig daai ander een.

Want dís wat die N1 aan jou doen ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters