Verlede maand
By die altaar
Die classic Datsun 240Z is ook deel van die reuse-versameling.  ~ albert bakkes

HIERDIE is so ’n bietjie van ’n anderste Seepkis(kar).

Want in dié een gaan ek nie bitch en moan nie.

Of miskien net so ’n bietjie, want ek is baie hard geslaan met die werklikheid – dat ek ’n middle-aged man is. Op pad om oud te word.

Want verlede week sit ek toe weer daar op die oop vlaktes van die Vrystaat, kort duskant die Vaal, in die hartjie van die diamantvelde en sonneblomwêreld.

Maar in Bothaville, waarna Datsun en Nissan ons vir die jaarlikse Nampo Skou (die grootste agricultural show in sy soort in die Suidelike Halfrond) genooi het, wag daar toe vir ons diamante van ’n ander soort. Oom Freek se Datsun en Nissan Heritage Museum op die dorp, om presies te wees.

Daar is meer as 200 classic karre van dié brands.

Om dit in perspektief te sit, dis die grootste versameling karre van die brands in private besit ter wêreld en die grootste versameling van sy soort buitekant die skure van die Datsun en Nissan headquarters in Japan.

En elke jaar is daar iets anders op verlief te raak.

’n Vintage Fairlady? Check. Die oorspronklike GT-R? Check. Die oorspronklike R32 Skyline Godzilla? Check.

Of wat van een of ander Z? Check. Of ’n ampskoets van een of ander Afrika-pre­sident? Check.

Die classic Datsun 240Z is ook deel van die reuse-versameling.
wenner: Of wat van die unmistakable SSS?
giant slayer: Die versameling het ook ’n paar Godzillas ingesluit – die R32 GT-R beast.
hart se punt: En die Datsun 1200 GX coupé was menige laitie, soos ek, se droom.
hairraiser: Die classic Z het menige Italianer se hare laat regop staan.
classic: Dié 280ZX kon ek bestuur by die Datsun en Nissan Heritage Mu­seum in Bothaville. Oh, the memories.

Ek was soos ’n kind in ’n candy store in die heiligdom vir petrolkoppe. Ek het nie geweet waar om te vat en te kyk en te los nie.

Dit was (weereens) so oorweldigend dat ek, in my opgewondenheid, in die loop van ’n video sommer ’n classic 280ZX as die 230ZX voorgestel het. Want sien, die opgewondenheid het gekom vanweë die feit dat ons wragtag ’n paar classics kon bestuur, soos die Datsun 1600-sedan, die Datsun 1200 GX coupé, die droom (budget)-sportskar vir menige kaalvoet laitie soos ek in die 1970’s, en die bogenoemde 280ZX.

En toe ek so in die skemer op die laaste run na die GX coupé kyk, waar hy so onder ’n boom in die herfssonne­tjie staan en idle, toe slaan dit my, dat ek, nes die kar, ook in die herfs van my lewe staan. Ek meen ek het grootgeword met die classics op die pad. En die brands het ’n moerse impak op my jong dae gehad.

Maar noudat ek terugkyk, is ek nie hartseer of melancholic nie. Ek en die karre het ’n goeie run gehad. En hopelik word ek ook eendag ’n classic soos dié.

En ek kan nou rustig na die lang slaap gaan. Want een ding is van my bucket list af. Ek kon aanbid by ’n verstommende, ongeëwenaarde petrolkop-altaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters