3 maande gelede
Reuse-woef kry les in fisika
skurk! Luke, my Great Dane, het my ’n what if ...?-oomblik op die teer gegee.Foto: Albert Bakkes  ~ 

WAT het ’n tamaai hond, ’n bike en Newton se wette met mekaar uit te waai?

Wel, dié kombinasie is die bestanddele vir ’n what if ...?-oomblik wat my binneste steeds laat sidder.

En dit het net weer die dynamics van beweging en momentum – veral op my speelplek, die teer, – vir my duidelik gemaak.

Isaac Newton (1642-1726) se tweede bewegingswet bepaal watter uitwerking ’n eksterne krag op ’n voorwerp met massa het.

In tegniese taal: Die uitwerking van ’n krag op ’n voorwerp is gelykstaande aan die massa van die voorwerp vermenigvuldig met die versnelling daarvan.

En sy derde wet, wat die meeste van ons ken, stel dat elke aksie ’n gelyke en teenoorgestelde reaksie wek.

Wat my bring by my en Vrou se tamaai Great Dane, Luke. Al 60 kg van hom (al is hy nog ’n teenager van 2 jaar oud).

Dodelik

Hoewel hy baie gehoorsaam en vriendelik met almal is, jaag hy nog af en toe nonsens aan.

En dié naweek was dit amper dodelik ...

Sien, hy haat motorfietse. En as iets per bike by ons afgelewer word, hou hy eers op grom wanneer die arme man sy helmet afhaal.

So maak Vrou Saterdag die hek oop op pad na die voortuin ...

En die volgende oomblik kom ’n swart ninja hier by ons verbygevlieg – en pyl soos ’n ICBM af op ’n arme outjie op ’n Triumph bike in die straat.

Ons het net tyd gehad vir twee keer se “LUKE, MOENIE!” toe connect Luke en daai bike mekaar.

Die bike het groot side panniers agter. En die een links tref Luke se kop en skouer met ’n ma’ moewiese slag. Tot ons skok.

Ek dag toe nog: “Boet, vanaand hou jy ’n heeltemal devastated Vrou vas.” Want sy is liewer vir daai swart gevaar as vir my.

Maar soos blits is Luke onder die bike uit, deur die hek en terug in die huis in.

Sy hol agterna en ek hol agter die biker aan wat darem sy sit kon behou.

Beseer

Terug na Newton se wette. Iéts moes ingee. In dié geval was dit die pannier, wat los afgeruk en die arme biker se besittings oral op die teerpad gesaai het.

Ek het beduie hy moet stilhou, want ek moes kyk of hy beseer is.

Gelukkig toe nie. Ons het bewend details uitgeruil, want ek sal vir sy skade moet betaal. (Luke is altyd platsak.)

En toe moes ons soos die blou hel ry veearts toe, want ek kon sien hier is groot fout met my seun.

Gelukkig, ná ’n nag se oorslaap, was dit net harsingskudding en ’n gekneusde skouer.

Maar daai nag het ek wakker gelê terwyl die what if ...? movie oor en oor in my kop speel.

Wat as die bike vinniger gery het? Wat as die bike bo-oor Luke gery het? Gebreekte rug. Die dood?

Wat as die biker afgeval en beland het onder­ die bakkie wat vinnig in die aan­komende baan verbygery het?

Ek sidder nou nog.

Want wat baie mense op ons paaie blykbaar nie besef nie, is dat Newton se wette ongelukkig/gelukkig op almal van toepassing is, selfs al is jy ’n tamaai hond van 60 kg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters