5 maande gelede
Pay day in ’n tenk
PAPIERWERK: Om dié tydelike liksens te kry, was ’n burokratiese nagmerrie.  ~ Albert Bakkes

O GAATS! En daar kliek ek onlangs ek sal blitsvinnig my rybewys moet update.

Want dis die belangrikste wapen in my werk – kort duskant throttle control, opposite lock en hyperfocus (op die gedrag van al die ander skape op die pad).

Sonder die ding kan ek nie werk nie, om dit kortliks te stel.

Maar kom ek begin by die woord “blitsvinnig”.

Toe nie ...

Uiteet

Want daai oggend ry ek eerstens in ’n tenk. Die Hilux Legend 50 is ’n damn goeie bakkie, maar o, !@#$%^, hy’s nie gemaak vir die stad nie.

Tweedens het ek vergeet dis pay day. Met ander woorde, daar is baie meer motoriste met hulle kop op geld, bills en uiteet eerder as op die teer en ander karre.

So, bestuurders ry méér asshole-erig as gewoonlik (amper onmoontlik, ek weet ...)

En toe loop ek my ook vas in ’n muur van burokrasie wat die Kommie-stelsel soos ’n breeze laat lyk.

Ek stap daar by die traffic department in nadat ek met my sweterige handjies in my tenk deur die nasty verkeer geworstel het.

Al klaar gewapen met ’n erkende (privaat) oogtoets wat ’n hele paar bokke gekos het, want dan skip ek mos daai dreaded oogtoets by die departement, of hoe?

Meer hieroor later ...

Ook gewapen met my ou liksens en ID. En vier foto’s waarin ek lyk asof ek uit Pollsmoor ontsnap het ...

Toe gee hulle my daai groen vorm om in te vul.

“Meneer moet ook ’n proof of residence hê, dankie”, word aan my gesê. Wat ek natuurlik nie het nie.

Ek piekel toe maar weer in die tenk huis toe deur die verkeer om ’n rekening of iets te gaan uitkrap.

Ek kry toe een en vul sommer solank die groen vorm in.

En worstel weer in my tenk deur die verkeer.

“Sorry, Meneer, dié proof of residence gaan nie aanvaar word nie, want dis van 2019. Ons soek 2020 s’n.

“En jou vorm is verkeerd ingevul.”

Weer word ek ’n groen vorm gegee. En toe piekel ek maar bank toe om ’n bankstaat te gaan trek. In my tenk. In die verkeer.

Maar omdat ek vergeet het dis pay day, is ek nie gereed vir die massas mense in die bank nie.

Tjappie

Toe vul ek maar die groen vorm in die bank in.

Uiteindelik is ek toe gewapen met (hopelik) die reg ingevulde groen vorm, oogtoets, ou liksens, proof of resi­dence, bankstaat en ID.

En ek piekel toe maar weer departement toe. In my tenk. In die verkeer. Papnat gesweet.

Dié keer is alles volgens die mens agter die glas tjap en ek kry ’n tjappie op my groen vorm.

Vrek happy dat ek darem nie in daai lang queue moet gaan sit vir die dreaded traffic-oogtoets nie.

Toe nie ...

Respek

“Meneer móét dit gaan doen, want rules is rules. As Meneer dit fail, kan Meneer daai ander oogtoets-vorm gebruik.”

Ure later, is ek uiteindelik gewapen met ’n tydelike liksens.

“Meneer sal ge-SMS word as Meneer se liksens hier is. Sign net hier ...”

Kyk, ek het baie respek vir spietkops. Die meeste van hulle is opreg en wil net hulle werk doen.

En hulle word peanuts betaal vir ’n gevaarlike job en dalk boonop die mees gehate job op aarde.

#Respect.

Maar my goeie !@#$%^, kan die burokratiese b*llsh*t net stop?

Alles word grootliks nog met die hand gedoen.

Het iemand al van computers gehoor, of van die internet?

Ek is seker die spietkops skud ook net hulle koppe oor die hope en hope papierwerk (in onleesbare handskrif en met verkeerde inligting van applicants) wat hulle met die hand in die stelsel moet invoer.

Dis hoekom die regering se First World Aarto setup met sy demerit system, waar punte van jou liksens afgetrek gaan word, so ’n absolute !@#$%^ gaan wees.

Want die arme spietkops is nog met die blikkie-tou-blikkie-stelsel toegerus. In ’n era van smartphones ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters