Verlede maand
Koronêr net ’n kwessie van tyd
bloedklont: Wanneer ’n trok soos dié gaan staan, verstop dit die “bloedsomloop” na of van Kaapstad se hart, wat die CBD is.  ~ 

NÓG ’n launch, nóg ’n hotel ...

Maar dié keer het die manu­facturer dit goedgedink om ons in die hart van die Moederstad te laat oorslaap.

En toe kry ek die eerste keer in ’n baie lang tyd ’n bird’s eye view van Slaapstad se CBD, want my kamer was op die 16de vlak.

En ek het tot die gewaarwording gekom dat ek moet saamstem met een of ander skrywer wat stede vergelyk het met reusagtige, lewende organismes.

Kaapstad vergelyk ek met ’n grand old dame: Sy is oud, maar kap aan. ’n Mens kan die CBD maar as haar hart beskou en die voorstede die res.

Hier teen sononder dra sy die V&A Waterfront soos ’n skitterende, duur borsspeld.

Die kabelkar se kabels hang soos ’n kosbare string pêrels om haar nek.

En die berg... Oukei, ek laat dít daar.

Gekliek

En in die meeste gevalle is die bling omtrent ál wat besoekers aan die Moederstad raaksien.

Maar teen 20:00 daai aand in die hotel het ek gekliek: Dié grand old dame het moerse groot probleme, want die bloed (lees: verkeer) in haar are (lees: paaie en strate) was toe net besig om uit te vloei.

O ja, daar was al ’n paar bypasses en stents vir die ou hart.

Die stasie is opgekikker, maar dit help net mooi f*kk*l wanneer treine gereeld uitgebrand word en die pendelaars is laat of awol.

Die MyCiTi-busdiens is ingestel as ’n stent om die bloedsomloop te versnel (in teorie, altans).

Maar dit help ook net mooi f*kk*l as dié diens (1) geld “bloei” soos ’n rivier en (2) nie eintlik werk nie omdat die drywers so gereeld staak.

So, haar are word verstop, never mind watter voorsorgmaatreëls getref word.

En dan is daar nóg ’n ding wat die ou girl optrip: trokke­.

Die goed is soos bloedklonte, want wanneer een gaan staan, affekteer dit die bloedsomloop.

Juis daai volgende oggend toe ek van die hotel af werk toe stap, staan drie van daai bloedklonte stil.

Dit was onder die flyover, in die regterbaan van FW de Klerk-boulevard, daar duskant die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal.

Die backup van die voorstede moet epic wees, het ek gedink, bly dat ek reeds in die stad is.

Paaie, soos ek gesê het, is soos are, en volgens Bio­logy 101 vervoer are suurstof (lees: werkers, wat tot die ekonomie bydra).

So, wanneer die are konstant verstop is, is die bloedsomloop traer – dít het ek in Strandstraat beleef.

Dit was tjailatyd, 17:00, op pad hotel toe van my werk, wat so 1,5 km is soos die kraai vlieg.

Dit het my byna ’n uur gevat om daai entjie straat af te lê, want omtrent alles in die CBD het stilgestaan.

So, ál die bling ten spyt, die grand old dame is werklik baie, baie siek.

Ek het op my mis­adventure in die CBD ook dié besef: Die Moederstad gaan een of ander tyd een moerse hartaanval of beroerte kry, want een of ander tyd gaan die hart net eenvoudig staan omdat ál die verstopte are verstop gaan bly.

En dan is daar geen suurstof nie, en geen emergency procedure gaan die old girl red nie. En dán is ons almal gef*k.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters