2 maande gelede
Húlle praat met jou siel
LEKKERSTE KAR? Ek het verlede jaar gedink die Porsche 718 Boxster GTS is die beste kar ooit. Maar toe change ek my mind.FOTO VERSKAF  ~ 

MENSE vra my gereeld wat die beste of lekkerste kar is wat ek al ooit bestuur het.

Dis sulke subjektiewe vrae. So ’n paar weke terug was dit sekerlik die Datsun 1200 GX Coupe in Bothaville.

Toe change ek my mind, want verlede week het ek die beste sports in jare gehad met al my klere aan agter die stuur van die vierde generasie van die Suzuki Jimny (lees binne).

Terloops, as jy so tussen die lyne lees, sal jy agterkom nie een van die twee bogenoemdes is eintlik performance models nie.

Van performance gepraat, verlede jaar was die beste/lekkerste kar van alle tye sekerlik die Porsche 718 Boxster GTS en sy hard top-boetie, die 718 Cayman GTS.

Rompie

Volgende week ry ek die splinternuwe Porsche 911 (serial number 992). So, dan change ek seker weer my mind.

Kom ek stel dit so: Klim jy in ’n Porsche, ’n Bentley, ’n Mercedes-AMG of ’n Beemer M, verwag jy jou rompie gaan opwaai en jou sokkies gaan afgeblaas word.

As dit nie gebeur nie, is daai ding mos ’n fail in jou oë.

En dis juis die in-jou-oë-faktor wat hier tel.

Daai faktor kan deur so baie dinge beïnvloed word. Jou mood op daai dag. Die company saam met jou in die kar. Die company wat die kar in die eerste plek gemaak het.

Mense is maar brand loyal en sal altyd daai brand verkies, al bestuur hulle miskien ’n beter produk van ’n ander brand.

Selfs die weer kan dinge in jou oë beïnvloed.

Trust my, ’n drop top is nie die gesondste ding op die beste tye in die Kaap nie, selfs nie eens ’n Porsche Boxster nie.

En dan is daar ook die peculiar ding wat ek “soul” noem.

Baie karre is net tools om jou van punt A na punt B te neem. Dis bland en functional, soos ’n yskas.

Doodmaak

Maar sekere karre, soos die bogenoemde Datsun, die Jimny en ietsie kleins en rats soos die Mazda MX-5 het ’n siel.

Die kar communicate met iets diep binne-in jou. Selfs al is daai siel miskien ietsie van ’n demoon wat jou aktief wil doodmaak, soos dié van die vorige generasie Honda Civic Type-R.

Dit laat jou daarna uitsien om in te klim en jy soek enige verskoning om te ry. En dan gaan dit nie noodwendig oor kW-krag, Nm torque, die badge op die bonnet of al die luxuries in die cabin nie.

So, sien jy hoe moeilik dit is om te sê wat die beste/lekkerste kar is wat ek al ooit gery het? Maar miskien is daar tog ’n antwoord.

Eendag, baie jare gelede, in die tyd van dinosaurs, het ’n laitie geldjies gespaar en ’n kar vir R1 500 by sy pa gekoop.

Dis die kar waarin hy grootgeword het, vandat hy sy oë oopgemaak het.

Dis die kar waarin hy baie adventures saam met sy ma en sy pa gehad het. Waarin hulle die land teen die verstommende average spoed van 80 km/h deurkruis het.

Spyt

Later, agter die stuur, ver weg van Ma en Pa, het hy ook sy eie adventures gehad (dit het gewoonlik bier en girls ingesluit).

Sy is sy eerste groot liefde, en tot vandag toe, selfs in sy middeljare, is die laitie tot in sy siel spyt dat hy haar ooit verkoop het.

So, my beste/lekkerste kar van alle tye? ’n Geel VW Beetle 1600 ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters