5 maande gelede
Epic en klaar
EPIC: ’n Road trip met ’n twist ...  ~ Albert Bakkes

DIE afgelope Vreesseisoen het ek maar vrek min van Vrou gesien weens omstandighede. (Die koerant slaap nooit ...)

En iets wat ook gekort het, was die annual road trip.

Gewoonlik beplan ons so ’n epic om so ’n bietjie ander dele van die land te sien (hetsy van Snorstad tot in die Kaap and all parts in between, of andersom). Ek kry gewoonlik so ’n long termer-toetskar en dan laat waai ons. Verkieslik op the road less travelled.

Maar toe gebeur daar iets ...

Ek voel nou asof ek weer op laerskool is waar ek ’n opstel vir Juffrou moet skryf oor die vakansie. Here goes:

Ek mis Vrou verskriklik (daai kort tydjie saam, nè ...). Sy sit in die Drakensberge en ek by die werk.

En daai Maandag besluit ek !@#$%^ dit. En gaan soek vir ’n flight ticket vir daai Donderdag.

Hoekom? Want as ’n surprise vir haar besluit ek om haar 11:00 op die Bram Fischer International (nogal) Airport te ontmoet met haar terugkeer Pretoria toe.

Vir ’n epic road trip once more.

Epic in more ways than usual, maar ek kom daarby uit.

Die roete wat ons sou vat, is so ’n uur of wat langer (so sewe en ’n half uur tot by die huis), in teorie, as die usual boring en baie gevaarlike N1 North.

Ons sak eers noordwes-Vrystaat se kant toe (Bloem, Brandfort, Theunissen, Virginia) voor ons dan weer noordoos se kant toe swenk na Welkom en uiteindelik Kroonstad, waar jy dan op die N1 klim.

Maar wat dié road trip epic maak in ’n klein Nissan Micra, is ’n 6 kg-bondel. Sy’s gedoop Sussiekie (Vrou se spelling) en dis daai worshond hybrid se eerste road trip.

Ons ander hond, ’n 60 kg Great Dane, gedoop Luke, ook ’n rescue.

Maar hy is al ’n veteran road tripper en die rustigste brak in ’n kar (hoe klein ook al) waarvoor jy kan bid. Maar die dinamiek verander as Sussiekie begin blaf. Want dan verander die rustige reus in ’n swart demoon. En as hy blaf, dan gee die kranse van die Vrystaat werklik antwoord ...

So, die mense van daai dorpe waardeur ons getravel het, het kilometers ver al van ons aankoms geweet (seker gedink die Four Horsemen is aan die kom oor die vlaktes). Want daai worshond het vir elke bees, elke skaap, elke wolk, you name it, geblaf (eerste road trip, sien).

So, check die prentjie: Een lang ou met ’n histeriese, wriemelende worshond op sy skoot. Padkos tussen sy bene. Vrou wat die gears werk om samewerking uit ’n oorlaaide eenliter-enjin te kry.

Donderende Luke wat die hele agterste seat vol sit, langs ’n naaldwerk-box en ’n cooler box by sy pote aan die een kant en die lang man se rugsak in die footwell agter hom. Rond die prentjie af met ’n oorvol boot en die honde se matras wat die agterruit bedek.

Donderstorms

Just add water.

Nee, regtig. want vanaf Bloem pak die wolke van een moeder van alle donderstorms saam. En ons jaag daar oor die vlaktes.

So tussen die verblindende vlae reën kon ons darem hier en daar stop vir ’n piss break vir die honde.

Maar nie naby die dorpe nie, eerder in die veld. Want jy sou die arme inwoners vir altyd getraumatiseer het. (Brandstof-stoppe was nogal interessant ...)

Dit klink soos een groot nagmerrie. Maar toe nie. Want toe sit ek saam met al die goed wat ek liefhet in my lewe. In ’n gutsy karretjie. In ’n deel van die land wat ek nog nie gesien het nie (so groen van al die reën dit brand jou oë). Riding the storm.

Inderdaad epic, Juffrou ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters