2 maande gelede
Dit het alles so goed begin ...
miracle: Kyk net die RAV4 se mooi neus. Dis ’n miracle dat jy dit heel sien ná my ervaring met die cyclists van Sea Point en Camps Bay. Foto: albert bakkes  ~ 

EK GAAN nou sekere mense kwaad maak.

Maar net omdat ek self so briesend is oor sekere mense se gedrag.

Op die pad natuurlik.

En dié keer wys ek nie vinger na my medebestuurders nie.

Die ouens wat die vinger kry, is ’n klein groepie cyclists wat ek dié naweek raakgeloop het. Of liewer: amper raak gery het ...

Kom ek begin by die begin.

Vrou is hier onder in die Kaap. Altyd ’n wonderlike bonus. My frame of mind is reg. Ek is in ’n happy space. En daar is ekstra bonusse bo-op die lekker kos en ander lekker dinge, as jy verstaan wat ek bedoel.

Want ons is uitgenooi na ’n larney troue daar in Houtbaai. Óp my birthday.

En ons ry ’n lekker SUV – die nuwe Toyota RAV4 van vandag se centre spread.

So, daai sunny Sondagoggend vat ons die lang(erige) pad na Houtbaai. Sommerso via Sea Point en Camps Bay. (Moet dit tog nóóit in Afrikaans sê nie, my kinders. Dis lankal nie meer sulke tipe plekke daai nie.)

En dis waar my nagmerrie toe begin.

In Sea Point begin ek en Vrou agterkom die helfte van Kaapstad het dieselfde gedagte as ons gekry – kom ons gaan vir ’n lekker Sunday drive langs die see. So, die paaie is besig.

Oorgeneem

En sekere cyclists het dieselfde idee met hulle stywe kuite, Knop Stores-broekies, check- you-back shades en weird helmets.

Maar dis nie die outfits wat gepla het nie. Eerder die manier hoe hulle die al hoe nouer wordende paaie oorgeneem het. So twee of drie in gelid.

En sonder ’n care in the world oor die sake van ander bestuurders op die pad, nè.

So, jy suiker maar in jou groot RAV4 agter hulle aan. Want jy is bang vir hulle.

En hoekom is jy bang? Want hoewel ’n 2 ton SUV in the real world die stryd sal wen teen ’n 70 kg cyclist as dit by ’n crash kom, wíl jy as bestuurder nie dié fight wen nie.

Want as jy dit durf waag om ’n cyclist op enige manier te connect, is jý die vark in die verhaal. En die ou wat op die ou einde in die tronk gaan sit. Ongeag wie se fout dit was.

En ek dink hulle weet dit ook.

In die nou kronkelstraatjies van Camps Bay wat nouer is as ’n muis se poepholletjie, het dinge nóg meer bisar geraak.

Ek weet nie of die tipe cyclist van die larney areas selfs méér entitled voel as die cyclists in die res van die land nie.

Porsche

Maar hier was dit regtig ’n kwessie van: “Te hel met jou, Mister Driver. Dis mý pad dié. Ek ry sommer in die middel.”

So, die aankomende toerbusse en larney karre moes letterlik in jou baan indruk om die larney aankomende cyclists verby te steek.

En dan ruk jy maar jou RAV se neus teen wil en dank so na moontlik aan die stert van die Porsche wat langs die pad gepark is.

Die feit dat ek nie een Bentley aan my linkerkant geskraap het, of die RAV4 se neus aan die regterkant verloor het as gevolg van ’n aankomende toerbus nie, was eintlik ’n wonderwerk. Óf dit óf ons het regtig die laws of physics gebreek.

Ek krap steeds kop daaroor en kry actually nagmerries.

“@#$%^, @#$%^, @#$%^!” het dit in daai kar gegaan. En ná die sewende keer het ek opgehou tel.

Vrou het naderhand vir my gesê ek moet “calm down to a panic”.

Sea Point en Camps Bay sien my nooit weer nie. En, nee, nie omdat dit nie pragtige plekke is en die mense daar nie nice is nie.

Tronk

Dis daai plekke se larney, entitled cyclists.

Julle maak ál die ander (orrait) cyclists se name gat.

PS: Die rede hoekom daar nie foto’s van die @#$%^ is nie, is omdat ek en Vrou so moes konsentreer om onsself nie in die tronk in te ry nie, dat ons nie nog kon kliek nie ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters