21 dae gelede
Super fan ís Datsun
Dekades: Warren se love affair het op 18 begin.  ~ 

‘OUKEI, oukei. Jy kan my ’n fan noem. Ek’s ’n fan van die bonkers Nissan GT-R.

“En wat van die hele Z series? En my eks het met haar ouma se Datsun 120Y met so ’n bruin vinyl roof aangekom in Skelmbos so ek het ook ‘grootgeword’ in daai kar.

“So noem my ’n fan.

Maar Warren Adams (49), van die Paarl, is nie ’n fan nie.

Die enigste manier om die stil, maer man te beskryf, is “fanatic”.

Maar nie op daai suicide bomber manier nie. Die enigste ding wat ontplof, is sy passie vir alles Datsun en Nissan.

Ek meen as jy ’n tattoo van die naam Datsun (met jou oorle pa se geboortedatum, wat jou die passie vir dié karre gegee het, onder) op jou arm met trots dra, kan jy niks anders as ’n fanatic wees nie.

Hy sê sy love affair het op 18-jarige ouderdom begin.

En sy first love was juis ’n 1600 S10 auto van 1972.

“My pa het eendag ’n tannie met ’n seuntjie in daai kar gehelp waar hulle langs die pad in die Paarl gaan staan het.

“Ná hy hulle gehelp het, het hy ook laat val dat as die tannie ooit eendag daai kar wil verkoop, moet sy hom bel.

“En toe wraggies ’n week ná die helpery toe bel sy hom en sê sy wil die Datsun verkoop.”

Ideaal: Vir ’n hele genera­tion van ons was die Datsun SSS coupé ’n droom.
Tjappie: As jy ’n Datsun tattoo op jou arm dra, moet jy ’n fanatic wees.
In styl: Mooi bly maar mooi.
Baie meer: Om Warren Adams ’n Datsun fan te noem, is die understatement van die eeu.Foto’s: Calvin Fisher
Ikoon: Warren Adams van die Paarl is trots op sy uiters skaars Datsun SSS coupé van 1972.

En toe koop Warren se pa wraggies vir sy seun daai Datsun vir die princely sum van R1 000.

En toe is die koeël behoorlik deur die kerk vir Warren en alles Datsun. Want hy en sy broer het toe al leer bestuur in hulle pa se eie SSS Coupé van 1972.

Warren sê hoewel die tannie hoog en laag belowe het alles was reg met daai kar, het daai eerste girlfriend so ’n bietjie probleme gegee.

“Maar ek het nooit opgegee op haar nie en het haar so ’n bietjie mooi gemaak en reggemaak”.

Een speed bump het die love story se wiele amper laat afval.

Eendag stop sy pa by hom en sy broer langs die pad terwyl hulle op pad huis toe was van die skool af.

Maar dis nie Warren se Datsun nie. Sy pa sê toe trots hy het daai Datsun vir die oranje ding geswaai.

“Ek was verby kwaad en het my pa gestuur om my Datsun terug te kry.”

En al die harde werk het uitgewerk, want hy kon haar op die ou end verkoop. Iets wat hy eintlik nooit moes gedoen het nie, sê hy skaam.

En die mooimaak en regmaak het toe ’n patroon in Warren se lewe geword.

Ja, beduie hy, hy het ander brands onder sy hande gehad, soos VW Jettas en ook daai ikoniese BMW 535.

“Maar net vir die koop en verkoop, meneer, my hart is maar nog Datsun.”

Sedert sy eerste liefde het hy nege Datsuns en Nissans (dink aan Z’s en Skylines) gehad.

En nou sit hy met ’n uiters skaars en iconic 1972- SSS Coupé van sy eie. Oënskynlik het Warren ’n neus vir skaars Datsuns, wie weet?

“Die eienaar was in Grabouw en het die kar in ’n skuur in die Paarl gestoor. Dit was net pure luck dat ek haar daar sien staan het.”

Hy het toe die eienaar gekontak en die bal aan die rol gesit. En nou sê Warren daar is geen manier dat hy dié een uit sy hande sal laat nie.

Hy het die enjin oorgedoen, en die body revive (nie oorgedoen nie, meneer).

En behalwe vir die mags (ek is al klaar maer meneer, ek kan nie dat my kar ook maer lyk nie) is die roofline nog original en die seatcover en matte binne restore tot die original.

Warren is ook in die proses om liefies te gee aan ’n 1969 1600 S10 wat hy vroeer gekoop het.

Een groot vis het hom tot dusver nog ontglip, die uiters skaars 240Z wat nooit amptelik aangeland het nie, maar geboer het in Zim.

“My droomkar daai.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters