3 maande gelede
Daai aids raak nou ’n kwessie
’n euwel: Ál die driving aids is nie net meer die duur lux karre beskore nie. Dié siekte het ook na die klein cheapies versprei. Foto’s: albert bakkes  ~ 

EK HET mos al geskryf oor daai sogenaamde driver aids.

Sogenaamd, want die goed kan soms só distract­ing word, dit dryf jou tot raserny.

En erger nog, dit kan jou tot in jou moer stuur, want jou aandag word só afgelei van wat in die verkeer aangaan dat jy maklik ’n smash kan maak, al wil jy nie.

Daai dieng! dieng! dieng! waarskuwinkie wat jy hoor as jy oor die speed limit is.

Of daai stuurwiel wat op sy eie jou weer trek in jou baan in (it’s a thing!) as die kar voel jy is nou uit jou baan (selfs as jy skielik ’n pothole moes try vermy).

Of daai liggies op die truspieëls wat jou waarsku wanneer daar iemand in jou blind spot is.

Of daai touch screen wat jou oog onwillekeurig ruk in sy rigting, want die satnav display het skielik radikaal verander om jou te wys waar die Giel Basson turn­off op die N1-snelweg is.

En gepraat van satnav.

Ek het al in ’n paar karre die satnav se raad gevolg.

Maar ek het eenkeer in Soweto geëindig en nie in Bryanston soos beplan nie.

So, ek trust nie meer satnav so ver ek die meeste karre kan gooi nie.

En selfs al sit jy die radio sagter, verander die display op die screen so hectic dat jou oog wéér van die pad getrek word.

Never mind op jou smartphone praat om aandag af te trek nie, baie karre doen dit sommer self vir jou.

En in die meeste gevalle is daar geen af-switch vir die meeste van die goed nie. So, jy sit in die verkeer, besig om jou vulsels, en die wil om te lewe, te verloor.

Verhouding

Ek sal maar nie sê watse brand ek onlangs gery het nie, want oor die algemeen was dit ’n damn goeie product.

Maar daar was een (nuwe) euwel wat amper ons verhouding heeltemal opgef*k het.

En ek noem daai euwel maar “Miss Jones”.

Want elke dan en wan het daar so ’n gesiglose, prissy Engelse skooljuffroustem Metallica afgesit en gesê: “You are over the speed­ limit”.

En dis ál wat daai stem se funksie blykbaar was. Sy was definitief nie die stem van Suki op jou Garmin GPS nie.

En “You are over the speed limit” het deur die speakers gefluister as jy 60 in ’n 80 zone gery het.

Naderhand het tot my broer, die most peace-loving man op aarde, teruggebulder: “Maar ons ry dan 100 in ’n f*kk*n 120 zone!!!”

Dinge het naderhand só onlogies en erg geraak (en met ’n paar amperse tail shunts met ’n kar voor my), dat ek maar in ’n ander toetskar geklim het net om van daai prissy juffie-stem weg te kom.

En, trust my, ek het daai af-switch gesoek vir daai juffie, maar hom kon ek nie kry nie.

En die ergste nog is, dis nie net meer die duur lux karre wat met gesiglose stemme en flashing lights en screens wat verander, uitkom nie.

Die siekte het reeds tot in die cheapies versprei.

In party van hulle voel dit kompleet asof jy in ’n disco ball bestuur ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters