Verlede maand
CX-5 sy prys werd
waarde: Die Mazda CX-5 bied besonders goeie waarde aangesien die Mazda vir dieselfde geld as die res, ‘n heelwat duurder, meer premium produk opdis.Foto’s verskaf  ~ 

DIE SUV-mark toon geen teken van ’n afname nie.

Om eerlik te wees, dit het nog nooit so goed gegaan met SUV-vervaardigers soos nou nie.

Veral Hyundai en Kia vaar besonder goed met hul kompakte SUV’s, die Tucson en Sportage onderskeidelik.

En dis ook in dié prysklas – tussen R400 000 en R600 000 – waar die meeste kopers wil saamspeel.

Maar hoekom Koreaans en nie Japannees nie?

Onthou julle toe Toyota, Nissan en Mazda Suid-Afrikaners op die pad gehou het? So, waar is jul lojaliteit?

Ja, die Koreaanse rygoed was aanvanklik heelwat goedkoper én beter toegerus, maar nie meer nie.

Ek meen, ’n Toyota RAV4, Nissan X-Trail of Mazda CX-5 kos nou dieselfde of selfs minder as hul Koreaanse mededingers.

Veral die CX-5 is ’n besonder goeie deal, aangesien dit vir dieselfde prys as die res ’n meer premiumproduk opdis.

Presies hoe Mazda dit doen weet ons nie, maar parkeer ’n CX-5 langs ’n Tucson en dis dadelik opvallend hoeveel duurder en stylvoller die Mazda lyk.

Klouter agter die stuur van die een en dan die ander.

Die Tucson lyk en voel eenvoudig goedkoop; die kajuit is die ene harde plastiek en goedkoop blou ligte. Die leersitplekke in die CX-5 laat die leersitplekke in die Tucson soos vinyl lyk.

Die CX-5 se kajuit voel groot, gemaklik en besonder luuks, soos ’n mededinger van Volvo, en Lexus eerder as die Tucson.

Die luginlate is afgewerk met egte metaal en amper aan alles wat ’n mens vat, is sagte leer of hoëgehalte- plastiek.

Alle materiale en vervaardiging van die CX-5 is beter as dié van die Tucson, maar hulle kos dieselfde. Hoe so?

Mazda se reeks SkyActive-enjins is verfynde weergawes van voriges, met ’n fyner balans tussen kraglewering en ekonomie.

Dis deesdae mos die norm om ’n lekker groot turbo en dual clutch gearbox aan kleiner enjins te koppel.

Dis meer ekonomies op brandstof, maar ook net solank jy nie ’n vrag passasiers en bagasie aanry nie. Ek gee toe dat die petrolgedrewe CX-5 nie die sterkste trek of die minste petrol sluk nie, maar hy brand skoner en trek egalig.

En anders as die nuwe, kleiner enjins op die mark, voel dit nie asof die CX-5 vreeslik hard moet werk om dieselfde job te doen nie.

Die groter Mazda-enjins met hul seepgladde torque converter outomatiese en handratkaste is ook minder rukkerig as die nuwe dual-clutch-gedoentes op die mark.

Wat Mazda gespaar het met beproefde tegnologie, is wys bestee aan beter vervaardiging, beter leersitplekke, beter ontwerp en beter toerusting sonder om veiligheid prys te gee.

classy: Die CX-5 se kajuit is weelderig en stylvol.
waarde: Die Mazda CX-5 bied besonders goeie waarde aangesien die Mazda vir dieselfde geld as die res, ‘n heelwat duurder, meer premium produk opdis.Foto’s verskaf
kokon: Die Mazda CX-5 is toegerus met ’n verskeidenheid veiligheids- features. FOTO’S VERSKAF

Die CX-5 is toegerus met outomatiese brieke wat met kameras en sensors ver­hinder dat ’n mens in iemand se gat vasry of dat jy uit jou baan drift.

Die CX-5 is ook toegerus met blind spot monitors en LED-hoofligte wat nie aankomende drywers verblind nie. Die kajuit is besaai met lugsakke en ’n verskeidenheid veiligheidsfeatures is standaard.

Teen sy prys en danksy Mazda se unieke benadering kan ’n mens ’n premium- Japannese produk besit eerder as net nóg ’n Tucson.

Dink ’n bietjie daaroor. Vir mý maak dié Mazda net soveel meer sin as die meeste rygoed in sy klas deesdae.

Mik vir die 2.2 turbo-diesel; jy sal nie spyt wees nie.

Die Mazda CX-5 is ’n stylvolle en betroubare ryding met ’n standaard diensplan en waarborg wat sy mededingers skaam maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters