23 dae gelede
BM-Weirdness op trip na shop
jinxed? Maandag was ’n seriously WTF-dag in hierdie 320d.Foto: ALBERT BAKKES  ~ 

EK HET Maandag serious WTF moments gehad.

Gevoel asof ek in ’n Salvador Dalí painting was.

Ek het die bewolkte dag afgeskop met ’n twee uur lange trip waarin 17 km afgelê is.

Dis maar business as usual vir my.

Ek tjaila toe vroeg om die laaste shots van die splinternuwe BMW 320d te vat.

Die photo shoot verloop glad.

Toe moet ek gou ’n paar groceries gaan kry by die groot Spar daar aan my kant.

Veral met ’n uiters skaars (en duur, natuurlik) toetskar, park ek maar so ver moontlik van die gepeupel, al kos dit my ook ’n ent stap.

En toe ek my kar afskakel, hoor ek so ’n geroggel en gewaar ’n “Shitty” Golf wat in my rigting aankom.

Die ding is moer toe geroes en die ekzôs hang los en dit róók.

En gepraat van rook, daar hang ’n entjie so skuins uit die mond van die bierpens-drywer.

Ek prewel die hoop dat die ou tog net nie naby my sal parkeer nie.

Maar nee, in daai ganse parking lot wat so groot soos ’n rugbyveld is, móét die ou reg langs my kom parkeer.

Nee, ek is nie ’n snob nie: Ek het niks teen ou karre of rokers met bierpense nie.

Maar donner, as jy nie kan omsien na jou kar nie, is die kanse mos goed dat jy nie sal omgee om die deur daarvan teen ’n ander kar te stamp nie.

Die ou park toe so naby my dat ek wonder of hy nie moedswillig was nie.

Toe klim so ’n ewe stewige blonde uit, ook met ’n entjie in die mond.

Sy raap toe ’n baba van die agter-seat op. (As jy geraai het dat die baba ook stewig gebou was, is jy reg.)

Ek kan net staar terwyl hulle winkel toe waggel.

Toe ek uit die kar klim, maak ek maar seker die wye deur raak nie aan die skedonk nie.

Net toe ek verby die neus stap van ’n BMW X3 wat skuins agter my geparkeer is, sê iets vir my ek moet baie vinnig links kyk en baie vinnig agteruit spring.

Ek was net betyds, want so ’n ouerige vrou in haar Getz het reguit op my afgepyl.

Die kar is afgeskakel, maar sy kom aan en kom aan, want dis afdraand.

Ek klap toe op haar bonnet om haar te waarsku dat sy die neus van die X3 binnekort gaan tref.

Sy skrik haar melk weg, maar wat sy eintlik moes doen, doen sy nie, en dis om te reageer ...

En BAM! – daar tref sy die X3.

Sy maak die deur oop en ek beduie sy moet reverse. En sy doen dit – met ’n oop deur en al, en skraap amper daai “Shitty” Golf.

Ek stel toe voor dat sy die deur toemaak voordat sy verder reverse.

Gelukkig was die skade gering en my bene was darem in een stuk.

Die vrou vra my toe: “Was dit my kar wat vorentoe gerol het?”

Ek het amper vir haar gesê: “Nee, Mevrou, die donnerse drywerlose BMW X3 het opdraand gerol!”

Ek het maar eerder ’n wag voor my mond geplaas.

Op pad huis toe swaai ’n vrou in so ’n klein Chev-bakkie voor my in sonder om te indicate.

Sy ry amper die regterkant van my kar se neus moer toe.

Agterop die bakkie was ’n sticker: “Do you know Jesus Christ?”

Ek dog toe: Ja, Mevrou, ek ken Hom, maar dit beteken nie ek wil Hom vandag ontmoet nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters