4 jaar gelede
SAGKENS EN RUSTIG
KENNER: Alan Pepper, die 4x4 expert met die sagte stem en rustige handgebare, het my meer van veldry geleer as al die ander instructors saam. Foto: DA

JY KRY gewone skilders, en dan kry jy iemand soos Leonardo Da Vinci of Rembrandt, wat die “Ou Meesters” genoem word. Jy kry mense wat slange vang en gepik word. En dan kry jy die legendariese snake charmers van Indië. Jy kry mense wat honde vang en dan gebyt word. En dan kry jy Cesar Millan, oftewel die Dog Whisperer. Jy kry gewone soldate, wat gewoonlik kanonvoer genoem word. En dan kry jy spesmagte. Die lys gaan aan... Ek het ’n pes met lesse, veral karbestuur-kursusse -  of dit nou advanced driving courses in vinnige karre, defensive driving lessons in stadige karre of 4x4-kursusse in die boendoes is. Dis omdat elke instructor iets anders na die tafel bring en dink hul kursus is die beste. Dis baie confusing, want net as jy dink jy het nou net alles moontlik oor ’n gegewe veld geleer, dan kom die nuwe instructor en probeer om jou alles te laat vergeet wat jy geleer het. Want hy is die expert in sy veld en wat die ander ou jou geleer het, is “heeltemal verkeerd”. Dus is dit back to square one vir jou. En met dié insight het ek vir die soveelste 4x4-kursus daar by Bass Lake naby Vereniging gegaan. In ’n stock standard en stokoud Suzuki Jimny. Ontmoet my instructor, Alan Pepper. Hy gee al 4x4-klasse sedert die laaste T-Rex sy laaste brul gegee het. En waar ander instructors hul stempel op jou probeer afdruk deur vreeslik dramaties te kere te gaan, te skreeu (sodat jy mooi kan hoor, my kind) en met die arms wild beduie, is Alan taamlik ekonomies met die woorde en handgebare. Waar ander instructors jou laat skrik (wat de f*k het ek nou verkeerd gedoen?) met ’n skrille STOP! wat jou paniekerig die petrol laat trap in plaas van die donnerse briek, beduie Alan net netjies. “Dis ’n leuen dat jy nie die briek en die clutch mag gebruik as jy in ’n baie moeilike situasie teen ’n incline is nie. “Dis moderne karre dié en dus kan die clutch en brieke gerus gebruik word,” is een van die wyshede wat hy stil-stil kwytraak. Naderhand weet jy presies deur net ’n ligte handgebaar van sy kant af hoe ver om te ry uit ’n donga en teen watter spoed en waar om te stop. Of om weer te probeer. Die man het die patience van Job. Of is ’n pa van ’n kind met ADHD. Ek sweer ek het meer geleer daai dag buite ’n 4x4 as binne-in een nadat ek langs Alan gestaan het. Want ek kon presies sien hoekom hy beduie dat die wiele net só in ’n sekere rigting gedraai moet wees teen byvoorbeeld ’n afdraende wat ’n bergbobbejaan twee keer sal laat dink. En dit terwyl die benoude bestuurder in die diepte van sy siel weet: “Maar die wiele moet anderkant toe staan, anders gaan ons omrol en in ’n flaming fireball sterf!” Ek kon ook sien hoekom power nie alles is om ’n kruin te oorwin nie. En dat ’n Jimny nie net sommer willens en wetens omfok net omdat hy wil nie. Alan is die Ou Meester, people charmer, people whisperer, en spesmagsoldaat van die 4x4-veld. Ek het meer by hom geleer as by al die ander instructors saam. Ek dink darem nog nie ek’s ’n expert nie. Maar volgende keer in die boendoes sal ek sy sagte stem en sy rustige handgebare in my kop onthou.  

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters