2 maande gelede
Steaks met flair
nie so duur nie: Dis deesdae baie makliker om eendvleisprodukte in Suid-Afrika in die hande te kry. En omdat dit nie noodwendig ingevoer is nie, ruk dit nie jou sak so erg nie.foto’S verskaf  ~ 

HET jy al ooit daaraan gedink om eend te braai? Gee dit ’n kans; jy kan ’n paar meesterlike etes daarmee aanmekaarslaan.

Toe Shisanyama: Braairesepte van Suid-Afrika geskryf is, kon jy eendlewer meesal in bevrore pakkies koop. Hierdie resep maak genoeg kos vir 4 mense.

Wat jy nodig het:

20 g bevrore eendlewer

1 sopie eendvet (of olie of botter)

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, gekap

1 t. (5 ml) sout

1 t. (5 ml) peper

½ k (125 ml) sjerrie

½ sopie brandewyn

1 sopie Dijonmosterd

4 steaks (loin, sirloin, rib­eye of filet)

5 takkies tiemie

1 suurlemoen se sap

Metode:

1. Haal die eendlewer uit die vrieskas en laat dit ontdooi. Spoel dit met koue water af en skud die oortol­lige water af.

2. Skep die eendvet, olie of botter en ui in jou vuurvaste pan en braai totdat die ui verkleur.

3. Voeg die gekapte knoffel by. Geur die mengsel met die sout en peper. Braai nog ’n paar minute totdat die lewer bruin is.

4. Giet nou die sjerrie oor die lewer en laat dit prut totdat die lewer gaar is. Die alkohol in die sjerrie kan vlam vat. Dis nie ’n probleem nie – laat die alkohol net wegbrand. ’n Mens noem dit flambé.

5. Sodra jy tevrede is dat die eendlewer heeltemal gaar is, kan jy die pan van die hitte verwyder en dit effe laat afkoel.

6. Skep die eend­lewer­mengsel in jou mixer. Giet die brandewyn oor en voeg die mosterd en een van die tiemietakkies by. Meng die bestanddele totdat jy ’n gladde patee het.

7. Skep die patee in ’n netjiese bakkie en laat dit in die yskas rus.

8. Wanneer die kole reg is, braai watter steak jy ook al gekies het vir altesaam 8 minute oor die warm kole. Dit moet op die ou end medium rare wees.

8. Haal die steaks van die kole af, skep hulle op die opdienborde en gee elkeen ’n ordentlike leksel eend­lewerpatee. Garneer met ’n vars tiemietakkie en voeg ’n skeut suurlemoensap by om dit mee af te rond.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters