4 maande gelede
Spekbondeltjies
gewild: Hierdie resep deur ene Nadine kan ewe goed werk as voorhappie of as bykos vir ’n braai se hoofgereg. foto verskaf  ~ 

GENOEG vir ses mense

Bestanddele:

1 pakkie groenbone

1 pakkie (200 g) streepspek

1 pakkie aspersies

1 pakkie langsteel-broccoli

2 sopies olyfolie

1 sopie sojasous

1 sopie balsemieke asyn

1 houer mosterd-gegeurde roomkaas

Balsemieke geursel (dis opsioneel; in die winkel sal hulle seker praat van glaze);

Tandestokkies of wit slagterstou (in lengtes gesny).

Metode:

1. Spoel die groente af en skud die oortollige water af.

2. Deel die groente in groepe van nie meer as ses stukke elk nie en rangskik die ruikers dat elke bondeltjie al drie groentes bevat.

3. Draai hierdie groen bondeltjies styf toe met een of twee stukke streepspek per bondel. Dit hang af hoeveel groente jy het en hoeveel mense jy moet voer.

Dis nou nie ’n eksakte wetenskap nie. Gebruik dus jou gesonde verstand. Mik om die spek nogal knap om te draai en gebruik ’n tandestokkie of stuk wit slagters­tou vir elke bondel om dinge byeen te hou.

4. Meng die olyfolie, sojasous en balsemieke asyn, en verf die bondeltjies voordat jy vuur se kant toe staan.

5. Braai die bondeltjies in ’n toeklaprooster oor warm kole. Draai hulle darem genoeg om sodat alle kante ’n kans kry om kole toe te kyk en totdat die spek bros en die groente effens gerooster is.

Terwyl jy braai, kan jy hulle ook verf met die sous wat oor is. Sodra hulle klaar is, haal jy hulle van die vuur af. Dié tipe groente hoef nie deurgaar te wees nie – jy kan hulle geniet as hulle nog ’n bietjie knars. Gewoonlik is die groente reg wanneer die spek gaar is.

6. Skep ’n lyn mosterd-roomkaas op elke bord en rangskik die gebraaide groentebondeltjie daarop.

Vir bonuspunte kan jy dit met balsemieke glaseersel bedruip as ’n bottel daarvan iewers in jou kombuis rondhang en jy nog nooit geweet het wat om daarmee te doen nie!

EN ...

As jy op Vrydag vuurlangs eet en die hele maaltyd net so van die rooster af voorsit, gebruik sommer net die mosterd-roomkaas as ’n doopsous.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters