6 maande gelede
Sappige filet met ’n ‘biltongpoeier’-kors
GEURIG:Die bruin botter maak die filet en groente nóg lekkerder. FOTO VERSKAF  ~ 

DIÉ biltongkors-steak­resep kom van Willie, ’n professionele sjef wat so gaaf was om geheime met my uit te ruil. Die enigste ongewone bestanddeel in die resep is iets wat ek “biltongpoeier” noem.

Baie slaghuise en supermarkte verkoop dit, maar as jy dit nie in die hande kan kry nie, maak dit sommer self deur droë biltong in ’n voedselverwerker te laat les opsê.

WAT JY NODIG HET

(vir 4 mense)

1 kg beesfilet

½ koppie Dijon-mosterd

sout en peper

1 koppie biltongpoeier

2 sopies (50 mF) olyfolie

’n mengsel groente vir

4 mense (dinge soos wortels, uie, murgpampoentjies, sampioene en soetrissies)

½ koppie botter

kleefplastiek

LAAT WAAI

1. Smeer die Dijon-mosterd oor die heel filet met skoon hande of ’n mes of lepel.

2. Nou gooi jy sout en peper oor die steak.

3. As jy nie biltongpoeier in die hande kon kry nie en jou biltong is nog heel, kap dit op en gebruik dan ’n voedselverwerker om dit fyn te maal.

4. Gooi al die biltongpoeier oor die steak. Rol en wikkel en druk dit totdat die mosterdlagie om die steak heeltemal met biltong bedek is.

5. Nou rol jy die steak styf in kleefplastiek toe en sit dit in die yskas.

6. Wanneer jy ’n paar uur of ’n dag later reg is om te braai, haal jy die steak uit die plastiek en sny hom in vier ewe groot stukke.

7. Sit jou vuurvaste pan of wok op die vuur en gooi die olyfolie en al die groente daarin.

Roerbraai die groente totdat dit geskroei is, maar darem steeds knars as jy dit byt.

8. Braai ook die steak-skywe op ’n rooster oor baie warm kole vir so 8-10 minute en maak seker al vier kante van elke steak kyk in ’n stadium kole toe en kry kleur.

9. Skep die steak en die groente op en gooi nou ’n ½ koppie botter in die pan waarin jy die groente gebraai het. Maak seker jy het intense hitte onder die pan sodat die botter smelt en aan die borrel raak.

Sodra die botter bruin raak, haal jy die pan van die vuur af en bedruip die steaks en groente met die braaibotter.

DIÉ week se resep kom weer eens uit Jan Braai se gewilde boek Shisanyama: Braairesepte van Suid-Afrika. Dit is ’n maklike resep vir steak en jy hoef glad nie baie voorbereiding daarvoor te doen nie. Maar neem kennis: Dit word wel ’n dag voor die braaidag gedoen. Jy gaan omtrént ’n hit wees met hierdie smullekker steaks!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters