5 maande gelede
RESEPTE: Wildsvleis...so maak jy hom
BRAAIVERNUF: Hierdie is ’n staatmaker-marinaderesep as ek wildsvleis wil braai, of dit nou springbok, koedoe, gemsbok of enigeen van hulle neefs is. Soms gebruik ek selfs lamsboud.foto verskaf  ~ 

DIE wildsvleis is genoeg vir ag mense.

Bestanddele:

2 kg ontbeende wildsvleis

8 knoffelhuisies, in die lengte gesny

2 takkies roosmaryn

1 ui, opgekap

Vir die marinade:

1 k. olyfolie

25 mF vars pietersielie (opgekap)

25 mF suurlemoensap

25 mF balsamiese asyn

25 mF sojasous

25 mF bruinsuiker

1 t. origanum

Metode:

1. Gebruik ’n skerp mes om klein snye in die vleis te maak en druk dan die stukkies knoffel en roosmaryn in die gate.

Anders kan jy sommer net die knoffel en roosmaryn by die marinade voeg.

2. Maak die marinade deur al die bestanddele in ’n bak te meng.

3. Sit die vleis in ’n plastieksak en rangskik die uiestukke so dat al sy kante daarmee bedek is.

Gooi al die marinade by. Druk nou meeste van die lug uit die sak en verseël hom (’n stywe knoop is voldoende).

4. Los die sak in jou yskas vir minstens 48 uur en draai hom elke paar uur om as jy sien dat die boonste deel van die vleis nie met die marinade bedek is nie.

As jy bang is die sak gaan lek, sit hom in ’n bak.

5. Steek ná ’n paar dae se marineertyd ’n vuur aan wanneer die lus jou beetpak.

6. Wanneer die kole reg is, haal die vleis uit die marinadesak en skud die oortollige marinade af.

7. Braai die vleis nou oor medium tot warm kole totdat hy net rouer as medium is, wat jou net meer as 30 minute behoort te duur.

As jy ’n digitale kitslees-vleistermometer het, mik na 55-60 grade Celcius in die middel van die dikste deel.

Terwyl jy braai, kan jy die vleis verf met die marinade wat oorgebly het, maar moenie die marinade opsit in die laaste vyf minute van die braai nie.

8. Sodra hy reg is, haal jy die vleis van die vuur af en laat hom ’n paar minute lank rus voordat jy aan hom sny.

Sny altyd teen die grein.

En ...

As jy meer as 2 kg vleis het, kan jy die marinade­bestanddele proporsioneel vermeerder totdat die vleis in die sak oral met marinade bedek is.

Wees versigtig met roosmaryn – hy het ’n kenmerkende smaak en baie mense haat hom.

As jy die roosmaryn in ’n maaltyd kan proe, het jy te veel bygegooi.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters