4 dae gelede
RESEPTE: Varktjop-ravioli
ROYAL: Met hierdie gereg sal jy soos ’n koning eet.  ~ Foto Verskaf

DÍT is een van die indrukwekkender braaimaaltye wat jy in jou lewe gaan maak – en dis die eindproduk van behoorlike Suid-Afrikaanse spanwerk!

Die resep lewer genoeg ravioli vir vier tot ses mense.

Bestanddele:

Vir die pasta:

4 koppies witbrood- of koekmeel

4 eiers

4 t. olyfolie

waspapier

Vir die vulsel:

4 varklendetjops

1 t. sout

1 t. peper

25 ml paprika

25 ml fyn koljander

1 eier

1 koppie parmesaankaas, gerasper

Jy het ook nodig:

water om die ravioli in te kook

1 blokkie beesvleisaftreksel

½ blok (125 g) botter

4 takkies vars tiemie

Metode:

1. Gaan maak ’n vuur.

2. Gebruik die meel en gooi ’n diep kring, wat ons ’n “put” gaan noem, op ’n skoon werkoppervlak.

Breek die eiers in die middel van die put. Vat ’n vurk en klits die olyfolie saam met die eiers.

3. Meng die meel bietjie vir bietjie op die wal van die put met die eier-en­olyfoliemengsel. Werk rustig en meng net ’n bietjie meel op ’n slag by sodat dit nie klonte maak nie.

Wanneer die mengsel te dik raak vir die vurk, gebruik jou hande om die deeg te knie. Knie vir 15 minute tot glad. Jy behoort dit gou onder die knie te kry.

4. Smeer olyfolie aan die een kant van die waspapier.

Sit die deeg op die geoliede kant van die papier en vou dit toe. Laat rus vir 30 minute teen kamertemperatuur.

5. Terwyl jou deeg laat rus, maak jy jou tjops gereed deur sout, peper, paprika en koljander oor te gooi.

6. Braai die varktjops oor warm kole vir so 15 minute tot gaar. Draai die vleis gereeld om om te keer dat die speserye brand.

Gebruik nou jou skerpste mes en sny al die vleis van die bene af en kap die vleis dan so fyn op as wat jy kan.

7. Sit die opgekapte vleis in ’n bak en breek een eier daaroor. Voeg die gerasperde kaas by en meng deeglik.

8. Keer terug na die pasta. Deel die deeg in vier gelyke stukke.

Op ’n groot, skoon, plat oppervlak rol jy die deeg in dun velletjies uit, so dun moontlik. Pak klein balletjies vleis so 4 cm uitmekaar uit op die deegrepe.

9. Vou die repe toe en verf ’n bietjie water (baie min, net genoeg om die deeg effens klam te maak) op al die areas wat jy wil verseël.

10. Gebruik jou skerp mes en sny die repe gevulde pasta in ravioli-vormpies en gebruik dan ’n vurk om dit toe te druk en die kante van die ravioli-sakkies te verseël.

11. Sodra jy tevrede is met jou ravioli-sakkies, kry ’n paar liter water aan die kook in jou potjie op die vuur en laat die beesvleisaftreksel daarin oplos.

Plaas die ravioli versigtig in die kookwater en laat hulle vir ’n paar minute so kook.

Terwyl hulle kook, sal die ravioli effe van kleur verander en jy sal opmerk dat hulle begin dryf.

Sodra hulle gaar is, haal jy die ravioli uit die water en skep op.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters