2 maande gelede
RESEPTE: Stampmielies
bykos: Umngqusho is ’n tradisionele Xhosa-gereg wat jy met mielies en bone maak. Dit was glo van Madiba se gunstelingkos.foto verskaf  ~ 

DIÉ resep lewer genoeg vir 8-10 mense.

Bestanddele:

500 g stampmielies-en-bonemengsel

water

Op die dag:

25 ml olyfolie

1 ui, fyn gekap

2 wortels, geskil en gekap

2 aartappels, geskil en gekap

25 ml matig sterk kerriepoeier


1 l hoenderaftreksel

1 blikkie tamaties, gekap

50 g-pakkie uiesoppoeier

(bruin of wit)

sout na smaak (indien verkies)

1 koppie cheddar, gerasper

Metode:

1. Giet die stampmielies-en-bonemengsel in enige houer van voldoende grootte en bedek met water. Laat dit oornag in die water week.

2. Giet die water volgende dag af en spoel die stampmielies-en-bonemengsel deeglik af.

3. Plaas die olie, ui, wortels en aartappels in ’n groot potjie en braai ’n paar minute totdat die uie geurig is en lekker lyk.

4. Voeg nou die kerriepoeier by en roer die spulletjie nog ’n minuut op die hitte.

5. Voeg die stampmielies-en-bonemengsel, 2 F vars water, hoenderaftreksel en blikkie tamaties by.

6. Sit die potjie se deksel op, kry hom aan die prut en laat die spulletjie vir 2½ uur so kook totdat die stampmielies sag is.

Beheer die hitte deur kole nader te krap of weg te krap sodat hy nie te wild kook nie, maar darem ’n bietjie meer hitte het as die rustige geprut van ’n beesstertpotjie. Kom ons noem dit ’n mediumsnel prut.

As dit vir jou in enige stadium droog lyk, gooi ’n bietjie water by.

Die watervlak van die potjie behoort net-net van bo af sigbaar te wees wanneer jy tussen die stampmielies-en-bone deur loer.

7. Sodra jy dink die stampmielies is sag, gooi die uiesoppoeier by en roer dit rustig in totdat dit deeglik gemeng is.

Laat die potjie nog so 15 minute sonder die deksel prut tot die meeste van die vog weggekook het.

Die gereg moet dik genoeg wees dat jy hom uit ’n bord kan eet en nie ’n sopbakkie nodig het nie.

As hy nog nie daar is nie, laat hom sonder die deksel prut totdat hy is.

8. Proe die umngqusho – as jy van meer sout hou, gooi nog by. Die hoender­aftreksel en uiesoppoeier is al klaar hulle sout werd. So, proe maar eers.

9. Haal die potjie van die vuur af en roer die kaas by. Jou Afrika-kunswerk is nou reg om voor te sit.

En ...

Moenie hierdie ete onderskat nie, want hy is regtig lekker.

Sit hom voor as ’n bykos wanneer jy aan die potjiekoskompetisie by jou plaaslike sportklub deelneem – dan is jy dadelik in ’n heel ander liga as die ouens wat rys voorsit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters