4 maande gelede
RESEPTE: Spek-en-kaasburgers
KONINGSKOS: Dié burger is ’n duisend maal beter as enige take-away.foto verskaf  ~ 

EK HET al fantastiese spek-en-kaasburgers geëet, maar dié een staan steeds vir my uit.

Ek het die resep al in een van my vorige boeke gedeel. Wat dit so spesiaal maak, is die tuisgemaakte, suiwer beesfrikkadelle met kaas en gebraaide spek.

Dié resep is geïnspireer deur Justin. Hy’t nie by die eindproduk uitgekom deur elke stuk afsonderlik te braai en dan bymekaar te voeg nie. Nee, hy’t sommer die spek en kaas net so in die frikkadel gesit – ’n lekker nuwe weergawe van ’n ou wenner.

Terwyl jy besig is, kan jy maar net sowel ’n paar ander dinge ook bysit.

Dié resep maak ses burgers.

WAT JY NODIG HET:

VIR DIE FRIKKADELLE

1 kg maer beesmaalvleis

1 pakkie (200 g) spek, in blokkies gesny

200 g fetakaas, gekrummel

1 ui, gerasper

1 sopie (25 mF) paprika

1 t. droë gemengde kruie

1 t. fyn komyn

1 t. gemaalde peper

OM DIE BURGERS MEE TE BOU

6 sagte hamburger-rolletjies

botter

slaaiblare

3 tamaties, in skywe gesny

3 sopies (75 mF) mayonnaise, in die Franse styl

6 agurkies, in skywe gesny

LAAT WAAI!

1. Braai die spek in ’n pan op die vuur of op die stoof. Laat dit afkoel.

2. Gooi nou ál die bestanddele vir die frikkadelle in ’n bak en meng; maak seker die bestanddele word so eweredig moontlik versprei.

3. Met skoon hande en op ’n plat snyplank deel jy die mengsel in ses ewe groot balle en met jou hande druk en vorm jy hulle totdat jy ses burgerfrikkadelle (patties) het.

4. Plaas die frikkadelle baie sagkens op die rooster sodat die vleis nie insak en aan die rooster vassit nie. Braai oor warm kole.

Wag vier minute, lig elkeen van die frikkadelle op en draai hulle om. Hoe minder jy aan die frikkadelle karring, hoe beter; die moontlikheid dat hulle uitmekaar sal val, is dan ook kleiner.

Braai vir omtrent ag minute in totaal tot halfgaar.

Dis beesmaalvleis, so die idee is dat die frikkadelle binne-in nog pienk moet wees (en nie grys nie). As jy lus het, strooi of maal gewone sout oor die frikkadelle terwyl jy braai, maar onthou: Die feta en die spek is klaar sout.

5. Tydens die laaste paar minute van die braaiery sny jy die rolletjies, smeer die binnekante met botter en rooster die gebotterde kante sommer ook op die rooster oor die kole.

6. Wanneer die burgerfrikkadelle reg en die rolletjies gerooster is, bou die burgers. Jy sit die frikkadelle in die rolletjies wat jy teen dié tyd al met slaaiblare, tamatieskywe, agurkies en mayonnaise versier het.

EN ...

Soos my kollegas in die ouditwêreld altyd gesê het: As jy dinge nou mooi wil laat klop, kan jy sommer gerasperde kaas ook by die frikkadelmengsel sit.

DIÉ week

se resep kom weer uit Jan Braai se gewilde boek Shisanyama: Braai­resepte van Suid-Afrika. Vandag wys ons jou hoe om heerlike hamburgers met tuisgemaakte spek-en-kaasfrikkadelle (patties) te maak. Jy moet dit verkieslik oor die kole gaarmaak om daai heerlike, rokerige braaigeur te kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters