2 maande gelede
RESEPTE: Sagte beeskortrib
SMELT INNIE MOND: As jy my vra, moet jy ribbetjies eers rustig in ’n pot laat prut om hulle sag te maak, dan verf jy hulle met sous en laastens sit jy hulle op die rooster om met hitte te verseël en geur te gee.foto verskaf  ~ 

BEESKORTRIB is rateltaai. As jy lekker wil eet, maak hom verkieslik rustig oor matige hitte gaar.

Om hom net so op die rooster te braai en te verwag hy gaan sag wees, is onrealisties. Dis soos om beesstert op die rooster te braai – die vleis sal gaar wees, maar hy gaan taai en onaangenaam wees om te eet.

Die resep lewer genoeg vir ses mense.

Bestanddele:

2 kg beeskortrib

water

1 t. sout

50 mF brandewyn

½ k. kola

½ k. tamatiesous

50 mF Worcestershiresous

25 mF paprika

2 knoffelhuisies, gekneus en opgekap

1 t. droë origanum

1 t. swartpeper

Metode:

1. Supermarkte verkoop iets wat hulle “beeskortrib” noem. Soos hulle hom sny, koop jy eintlik nie ribbetjies nie, maar repe vleis wat teen die grein gesny is saam met daardie deel van die karkas se ribbebene.

As jy regte beeskortrib wil hê wat soos ribbetjies lyk, bel ’n regte slagter en bestel dit. Enigeen van die twee opsies sal egter werk vir die resep – ribbetjies wat soos ribbetjies lyk, gaan net mooier wees.

2. Sodra jy tuis is met jou repe kortrib of “regte” kort­ribsnitte, plaas al die vleis in jou potjie, tap water by totdat die ribbetjies net-net bedek is en voeg sout by.

Sit die deksel op en laat die vleis rustig prut.

As jy met die repe kortrib werk, laat dit 60 minute prut. As jy die ribbetjies gebruik, laat hulle so 90 minute prut totdat die vleis sag is.

3. Hoe ook al, sodra die vleis sag is, tap al die water uit die pot, maar los die vleis daarin.

4. Gooi nou die brandewyn, kola, tamatiesous, worces­tershiresous, paprika, knoffel, origanum en peper by die vleis in die potjie.

Meng die spulletjie deeglik en maak seker die vleis is met sous bedek.

5. Nou kan jy nog kole onder die pot krap en die ribbetjie laat prut in sy marinadesous totdat jy tevrede is dat die sous taai genoeg is.

6. Pak die kortrib op jou rooster oor medium-warm kole en braai ’n paar minute aan elke kant totdat die vleis sis en die sous lekker begin karamelliseer.

Wees versigtig – met al die suiker in die sous sal dit maklik brand. Moet dus nie te lank braai nie!

Sodra hy reg lyk, is hy reg. Haal van die rooster af en geniet. Jy kan enige sous wat oor is in die pot ook oor die vleis skep vir die eetslag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters