6 maande gelede
RESEPTE: Ryk hoenderpot
MAKLIK: Die bestanddele vir dié resep is maklik verkrygbaar.  ~ Foto Verskaf

DAAR is ’n klomp redes hoekom hierdie resep so fantasties is. Die belangrikste is natuurlik dat dit ’n lekker, ryk en eksotiese maaltyd is, maar net so belangrik is dat jy elke enkele bestanddeel in omtrent enige supermark in Suid-Afrika se stede, voorstede en die platteland kan kry.

Genoeg vir 4 mense.

Bestanddele:

8 hoenderstukke (dytjies en boudjies, verkieslik sonder die vel)

2 sopies olyfolie

1 ui (opgekap)

1 teelepel sout

1 teelepel peper

2 knoffelhuisies (gekneus)

Vars gemmer, in volume net soveel as die knoffel (gerasper)

1 sopie fyn komyn

1 teelepel borrie

1 teelepel fyn kaneel

1 koppie hoender- of groente-aftreksel

1 koppie lemoensap

1 koppie sagte pruimedante (pitte uitgehaal)

½ koppie droë appelkose

OM MEE OP TE DIEN:

2 koppies koeskoes

2 koppies kookwater

2 sopies botter

1 teelepel sout

2 sprietuie (opgekap)

1 sopie kruisement (vars gekap)

1 koppie amandels

Metode:

1. Maak ’n groot vuur en sit jou potjie op die vlamme.

2. Rooster die koppie amandels droog vir so ’n minuut. Wees wakker – hulle brand sommer gou. Haal die potjie van die vuur af en sit die geroosterde amandels eenkant vir veel later. In ’n stadium wanneer jy verveeld is, moet jy die amandels rofweg opkap.

3. Dit maak die potjie regtig lekkerder as jy ’n deel of sommer al die vel van die hoenderstukke verwyder. Dis maklik. Trek die vel met skoon hande van die hoender af. Gooi nou die olyfolie, hoenderstukke en ui in die potjie.

4. Nou gooi jy sout en peper oor die spulletjie in die potjie wat teen dié tyd op die vuur is. Gebruik jou houtlepel om bestanddele te meng en braai dan vir ’n paar minute tot die hoender bruin raak en die uie sag is.

5. Gooi die knoffel, gemmer, komyn, borrie en kaneel by en braai ’n minuut lank om die geure in die speserye te laat loskom. Gaan vinnig aan na die volgende stap sodat die speserye nie brand nie.

6. Gooi die aftreksel en lemoensap by en gebruik die vloeistof om enige iets los te krap wat onderin die pot vasklou en dreig om te brand.

7. Gooi dan ook die pruimedante en appelkose by. Meng die hele spulletjie, sit die deksel op die potjie en laat dit 45 minute lank rustig prut met ’n klompie kole of ’n vlammetjie onder die potjie.

8. Terwyl die potjie prut, takel jy die koeskoes. Sit die koeskoes in ’n bak en gooi die kookwater daaroor. Laat dit staan vir 5 minute en voeg dan die botter by. Gebruik nou ’n vurk om die koeskoes te vlok en meng die sout, sprietuie, kruisement en opgekapte amandels by.

9. Ná 45 minute lig jy die potjie se deksel op en roer versigtig sodat jy nie die hoenderstukke in, wel, stukke breek nie. Laat die potjie nou ’n hele rukkie sonder die deksel prut totdat jy tevrede is dat die sous dik genoeg is. Altesame behoort die gaarmaaktyd vandat jy die hoender en uie begin braai het nie langer as 90 minute te wees nie. Jy wil hê die sous moet dik wees, maar jy wil nie hê dit moet heeltemal wegkook nie. Die dik sous moet die koeskoes deurdrenk – dit is deel van die maaltyd se lekkerte.

10. Sit die hoender voor op ’n ordentlike bed koeskoes.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters