3 maande gelede
RESEPTE: Potbraai-bolletjies
status: Vir die boek het ek ’n klomp lekker broodresepte ontvang. Dié weergawe is geïnspireer deur ’n klomp bydraes, maar steun die swaarste op Leana se resep.foto verskaf  ~ 

ONS stem seker almal saam oor die kultusstatus van braai­broodjies –of soos die koningin sal sê, Suid-Afrikaanse vuurgeroosterde toebroodjies.

Maar daar is nóg twee groot geeste in die braaibroodwêreld.

Hulle is natuurlik roosterkoek – broodrolletjies op die rooster gebak – en potbrood. Potbrood het nie die mees kriptiese naam nie, want dis ’n brood wat jy in jou pot op die vuur bak.

Ons gee ook die rolletjies ’n voorsprong omdat hulle ’n regte potjiesmaak het.

Dié resep lewer genoeg bolletjies vir ag mense.

Bestanddele:

1 ui, opgekap

1 pakkie (200 g) spek, opgekap

500 g witbrood- of koekmeel

1 pakkie (10 g) kitsgis

25 ml suiker

12,5 mlsout

1 koppie cheddarkaas, gerasper

25 ml vars origanum, opgekap

1 koppie water, louwarm

50 ml olyfolie

1 houertjie (250 ml) vars room

botter (om mee op te dien)

Metode:

1. Verhit ’n bietjie olie in jou vuurvaste pan en braai die ui en spek tot gaar. Jy kan hierdie stap ook op die stoof in jou kombuis doen.

2. Gooi die meel, gis, suiker en sout in ’n mengbak en meng deeglik (jip, dis die standard-broodbak-grappie) totdat dit goed gebind het.

Voeg dan die spek, uie, kaas en origanum by en meng.

3. Voeg ’n bietjie louwarm water by en meng deeglik. Hou aan om die water bietjie vir bietjie by te voeg en te meng totdat jy iets het wat soos deeg lyk.

Jy het so ’n koppie louwarm water nodig vir 500 g meel, maar jy kan ’n bietjie meer bygooi as jy moet.

4. Knie die deeg met skoon hande op ’n meel­bestrooide oppervlak totdat dit sag en plooibaar is.

5. Sit die deegmengsel terug in jou mengbak en laat staan dit op ’n warm plek, soos naby die vuur of in die son, met ’n vadoek oor. Laat rys so 30 minute.

6. Ná ’n halfuur druk jy die deeg weer plat deur dit ’n paar minute lank te knie.

7. Gooi olyfolie in jou nommer 10-platboompotjie en maak seker dat die bodem en al die kante ’n olielagie oor het.

8. Rol die deeg in bolletjies, iewers tussen die grootte van gholfballe en tennisballe, en pak hulle in een laag in die pot.

9. Gooi die room oor die deegbolletjies en strooi enige gerasperde kaas wat dalk nog iewers rondlê, daaroor.

10. Sit nou die deksel op en bak oor medium-warm kole met ’n paar kole wat jy ook op die deksel pak.

Moenie te aggressief wees nie – brood het die geneigdheid om te brand!

11. Haal die deksel ná omtrent 40 minute versigtig af sodat daar nie as of kole in die potjie val nie.

Die brood behoort goudbruin en deurgebak te wees.

Dien dit warm van die vuur af op, gesmeer met botter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters