Verlede maand
RESEPTE: Peri-peri-hoender
Lekker skop: Jy kan die peri-peri of rooipeper in jou hoendergereg verminder as jy bang is dit gaan pyn van bo in tot onder uit! foto verskaf  ~ 

DIÉ eenvoudige resep lewer genoeg vir ses tot ag mense.

Bestanddele:

16 hoenderstukke (dytjies en boudjies)

50 ml hoenderspeserye

500 ml tamatiesous

50 g (1 pakkie) tamatiepasta

25 ml asyn

25 ml suurlemoensap

25 ml bruinsuiker

25 ml olyfolie

25 ml paprika

1 t. peri-peri-poeier

1 t. rooipeper

Metode:

1. Strooi die hoenderspeserye aan alle kante oor die hoenderstukke – enige handelsnaam waarvan jy hou.

2. Meng nou die res van die bestanddele.

Gordon, die ou by wie ek die resep gekry het, sê hy gebruik sommer ’n gewone 750 mF-tamatiesousbottel nadat hy 250 mF uitgegooi het.

Natuurlik kan jy die sous in enige bottel, fles, houer of bak meng. Wat belangrik is, is om dit deeglik te meng.

3. Braai die hoender oor medium-warm kole met die rooster redelik hoog gestel en draai die hoender dikwels om. Ons wil dit altesame vir so 25-30 minute braai.

4. Die sous is baie dik en sal gou brand, so jy wil dit regtig eers opverf teen die einde van die braaiproses.

Die maklikste manier is om die vleis lekker te verbruin aan alle kante en dit dan by die sous in die potjie te gooi.

Roer alles rond en laat dit prut totdat jy seker is dat die hoender heeltemal gaar is.

Jy kan nou eet, en vir die tweede ronde kan jy die hoenderstukke weer gees (en hitte) gee op jou rooster oor die kole!

En ...

As jy bang is die brandgoed gaan jou skop, gebruik óf ’n teelepel peri-peri óf ’n teelepel rooipeper – nie albei nie!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters