Verlede maand
RESEPTE: ’n Lamsribbetjie
sag: Onthou, al is dit nie ’n potjiekosresep nie, het jy ’n potjie nodig om die vleis in te smoor totdat dit sag is. foto verskaf  ~ 

DIE grootste uitdaging is om ontbeende lamsribbetjies in die hande te kry, maar met ’n bietjie beplanning is dit eintlik heel maklik.

Genoeg vir ses mense.

Bestanddele:

1 kg heel lamsrib, ontbeen

2 suurlemoene se sap

25 ml sout

25 ml peper

1 rooi-ui, in dun skywe gesny

1 klein houer (200 g) feta­kaas, gekrummel

1 pakkie (250 g) songedroogde tamaties, vloeistof afgegooi en opgekap

25 ml kappertjiesaad, vloeistof afgegooi en opgekap

wit slagterstou, in lengtes gesny

½ koppie witwyn

½ koppie skaapvleisaftreksel van goeie gehalte

Metode:

1. Bel jou slagter en bestel 1 kg heel, ontbeende lamsrib.

As jou slagter dit nie vir jou kan lewer nie, kry ’n nuwe slagter.

2. Sit die heel, ontbeende lamsrib op ’n plat, skoon oppervlak en gooi ’n ordent­like klompie suurlemoensap, sout en peper oor.

Draai hom om en herhaal aan die ander kant.

3. Vir die volgende stap wil jy die vet en vel ondertoe laat kyk en die vleiskant boontoe.

Sit die uieringe lekker plat op die ribbetjies en strooi die feta-kaas, songedroogde tamaties en kappertjiesaad oor die lam, en maak seker jy versprei dit egalig.

Druk die spulletjie met skoon hande plat teen die vleis sodat dit darem nie te los is nie.

4. Nou rol jy die ribbetjies styf op en maak seker die vulsel is stewig binne -in vasgepak.

5. Gebruik die stukke wit slagterstou om die rolle mee vas te trek. Die resep behoort ses monde te voed – so, mik na ses stukke. Maar jy kan ook minder of meer porsies wat dikker of dunner is, maak.

Bind die tou baie styf vas om die rol in plek te hou.

6. Gooi die wyn en vleisaftreksel in jou potjie en smoor die ribbetjies oor medium hitte met die deksel op vir 90 minute tot sag en deurgaar.

Met die braaislag:

7. Ná 90 minute haal jy die vleis uit die potjie en sny elke ribbetjierol in waarskynlik ses ewe groot porsies.

8. Braai nou hierdie skywe ribbetjierol in ’n toeklaprooster oor medium-warm kole vir 10-15 minute. Wag totdat die vleis ’n aangename kleur het en die vet aan albei kante lekker bros is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters