2 maande gelede
RESEPTE: Moutbier-potjie
lekker: Dié gereg sit twee geurryke bestanddele saam, naamlik steak en moutbier.foto verskaf  ~ 

HIERDIE is Riaan se weergawe van dié tradisionele Ierse gereg wat jy in elke kroeg op daardie eiland kry.

Guinness is seker die bekendste moutbier (stout), maar jy kan sommer enige van jou plaaslike drankwinkel se donker mout­biere gebruik.

Die resep lewer genoeg vir vier mense.

Bestanddele:

1,5 kg dikrib-steak (ook bekend as chuck), ontbeen en in blokkies gesny

50 mF olyfolie

2 uie, in skywe gesny

2 selderystokkies, opgekap

1 t. sout

1 t. swartpeper

4 knoffelhuisies, gekneus en opgekap

500 mF donker moutbier

4 lourierblare

4 takkies tiemie

500 mF beesvleisaftreksel

1 pakkie (50 g) tamatiepasta

2 wortels, geskil en in hompe gesny

1 kg aartappels (4 grotes) in hompe gesny, of jong aartappeltjies

25 mF mielieblom

Metode:

1. Ontbeen die dikrib-steak en sny in stukke.

2. Verhit die olie in jou potjie. Gooi dan die uie en seldery by en braai totdat die uie bruin raak.

3. Voeg nou die vleis, sout, peper en knoffel by en braai die vleis ’n bietjie bruin.

Dis nogal ’n klomp vleis, so maak seker daar is ordentlike vlamme onder jou potjie. Nie ál die vleis sal alkante bruin raak nie en dis reg so. Ons mik net om daardie braaivleisgeur in die potjie te kry.

4. Sodra die vleis vir jou bruin genoeg is, gooi jy die bier, lourierblare en tiemie by en meng deeglik. Gebruik die vloeistof en jou lepel om enige stukkies uie of vleis van die bodem los te krap.

5. Hou die potjie se deksel eenkant en laat die potjie so oop prut vir omtrent 30 minute sodat ’n deel van die bier kan wegkook.

6. Gooi nou die beesvleisaftreksel, tamatiepasta, wortels en aartappels by die potjie, meng die spulletjie lekker en sit die deksel op.

Laat hom nou rustig prut vir die volgende uur en ’n half, of soos party mense sal sê, 90 minute.

7. Wanneer die vleis sag is en die aartappels ook, meng die mielieblom met 25 mF koue water om ’n pasta te vorm. Gooi dit by die potjie en meng hom deur, want dit sal help om die sous dik te maak.

Laat die potjie sonder die deksel prut. Die sous behoort loperig, maar nie waterig te wees nie.

Sodra die sous vir jou dik genoeg is, kan jy gerus maar opskep.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters