5 maande gelede
RESEPTE: Mosterdroomys op T-beenskywe
ONGEWOON: Wie sou kon raai dat roomys op steak so lekker kan wees! FOTO VERSKAF  ~ 

IN DIE lewe maak roomys dinge altyd beter. Mosterd-gegeurde roomys maak selfs ’n gebraaide steak beter.

Daar is ’n paar redes hiervoor.

Eerstens klink dit goed en lyk dit mooi op foto’s. Maar dan is daar die fundamentele redes: Die kernbestanddele van mosterdroomys – eiers, room en mosterd – pas goed by steak.

Ons het dit al honderde kere saam met steak geëet – hier is dit net in ’n roomys-gedaante.

Die resep lewer genoeg vir vier mense.

WAT JY NODIG HET:

4 T-beenskywe (T-bone steaks)

sout en peper

VIR DIE ROOMYS:

4 eiergele

½ koppie witsuiker

1 koppie room

1 koppie melk

2 vanieljepeule

25 mF Dijon-mosterd

25 mF korrelmosterd

1 teelepel sout

’n digitale kitslees­-voedsel­termometer

roomysmasjien

LAAT WAAI!

1. As die eiergeel nog in ’n eier wegkruip, skei dit van die eierwit. Vir dié resep het ons net die gele nodig.

2. Meng nou die eiergeel en suiker tot glad.

3. Meng die room, melk en vanielje in ’n pot en verhit oor medium hitte. Jy wil die mengsel warm hê, maar jy wil dit nie laat kook nie.

4. Gooi nou ’n bietjie van die warm room-en-melkmengsel by die eiergeelmengsel en roer deeglik. Gooi nog van die warm mengsel bietjie vir bietjie by (nie alles op een slag nie) en roer voortdurend.

As jy die twee mengsels op een slag bymekaargooi, sal die eiers gaar word, en dis nie wat jy wil hê nie.

5. Sodra ál die melk en room by die eier en suiker gevoeg is en die spulletjie deeglik gemeng is, gooi jy die hele mengsel terug in die pot.

Verhit dit oor ’n medium hitte terwyl jy voortdurend roer totdat die mengsel 80 °C bereik.

Gebruik die digitale kitslees-voedseltermometer om hierdie deel reg te kry.

6. Haal die pot van die hitte af en roer die mosterd en sout by.

Meng deeglik en laat die pot nou iewers beskut staan om tot kamertemperatuur af te koel.

7. Sodra hy kamertemperatuur is, sit jy die mengsel in die yskas totdat dit net so koud is soos die res van die dinge in jou yskas.

8. Sodra die mengsel in jou yskas heeltemal afgekoel het, gooi jy dit in jou roomysmasjien en laat dit vir ’n uur karring totdat dit roomys is.

9. Strooi sout en peper oor die steaks en braai hulle oor baie warm kole vir ag minute alte­same.

10. Sit elke steak warm van die vuur af voor met ’n bol mosterdroomys bo-op.

DIÉ week se resep kom weer uit Jan Braai se gewilde boek Shisanyama: Braai­resepte van Suid-Afrika. Vandag wys hy jou hoe om tuisgemaakte mosterdroomys te maak om saam met gebraaide T-beenskywe te geniet. Dit is ’n interessante variasie op die tradisionele romerige sous wat ’n mens gewoonlik saam met steak eet.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters