Verlede maand
RESEPTE: Mosbolletjies
SAG EN GEURIG: Vars mosbolletjies is mos altyd lekker!  ~ Foto Verskaf

LEWER vyf bolletjies.

Bestanddele:

GIS:

4 k koekmeel

6 k gistende mos (vars druiwesap gepars met pitte, skille en stokkies)

ROSYNTJIE-GIS:

6 k kookwater

500 g rosyntjies (met pitte), fyngemaak met ’n stamper en vysel

1 t. kitsgis

1 e. suiker

4 k koekmeel

DEEG:

5 kg koekmeel, gesif

1 e. sout

1,5 kg suiker

2 e. anys

gis of rosyntjie-gis

ekstra meel vir oorgooi.

500 g botter, gesmelt

3 k louwarm melk of water

2 eiers

Metode:

Gis:

Sif die koekmeel by die vloeistof in. Roer totdat al die klonte weg is en ’n gladde pasta vorm.

As jy nie mos in die hande kan kry nie, maak rosyntjie-gis.

Rosyntjie-gis:

Giet die kookwater oor die fyngemaakte rosyntjies.

Laat staan eenkant totdat die water louwarm is.

Voeg die gis en suiker by. Roer totdat dit opgelos is, giet in ’n glaspot en bedek.

Laat dit oornag op ’n warm plek staan.

Ná 1-2 dae (na gelang van die temperatuur in die vertrek), wanneer al die rosyntjies na die oppervlak gedryf het, kan jy die mengsel deur ’n sif giet.

Sif die koekmeel by die skoon vloeistof in. Roer totdat al die klonte weg is en ’n gladde pasta vorm.

Deeg:

Sif die 5 kg koekmeel, sout, suiker en anys saam.

Maak ’n holte in die middel en giet die gis of rosyntjie-gis versigtig by. Moenie die mengsel roer nie.

Sprinkel ’n bietjie meel bo-op. Laat die mengsel ’n uur lank op ’n warm plek staan om te rys.

1. Meng die gesmelte botter met die melk. Klits die eiers in. Voeg dit by die meelmengsel en knie totdat ’n stewige deeg vorm.

2. Maak bolletjies van die deeg. Pak dit styf teen mekaar in gesmeerde broodpanne.

Laat dit tot dubbel die hoogte rys, borsel ’n bietjie melk bo-oor en bak ongeveer ’n uur in ’n voorverhitte oond teen 200 °C.

3. Laat die gaar beskuit ’n bietjie in die panne afkoel voordat jy dit uitdop. Breek die baksel in bolletjies, versprei die stukke op bakplate en droog dit oornag teen 70-80 °C in die oond uit.

Jy kan ook die vars mosbolletjies met botter en konfyt voorsit.

  • Resep met La Motte se toestemming herdruk.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters