2 maande gelede
RESEPTE: Mieliebrood
afloer: Hierdie resep is eintlik ‘gesteel’, terwyl ene Russel oor Kerrie se skouer gekyk en notas gemaak het terwyl sy die mieliebrood aanmekaartimmer.foto’s verskaf  ~ 

DIE mieliebrood is genoeg vir 10 mense.

Bestanddele:

25 mF olyfolie of gesmelte botter

2 k. witbrood- of koekmeel

2 k. mieliemeel

25 mF bakpoeier

12,5 mF sout

1 vars mielie (sny die pitte van die stronk af)

1 blikkie (400 g) suikermielies

2 eiers

1 k. melk

Metode:

1. Gebruik die olyfolie of botter om die binnekant van jou nommer 10-platboompotjie te smeer.

2. Gooi al die droë bestanddele in die gesmeerde potjie en meng deeglik.

3. Gooi nou al die nat bestanddele by. Moenie te erg meng nie. Sodra alles lekker gemeng is, is dit reg.

4. Sit die potjie se deksel op en laat bak die brood ’n uur lank rustig.

Laat die potjie op ’n staander of rooster rus met kole daaronder en ’n paar op sy deksel.

Skuif voortdurend nog warm kole onder die pot in en sit weer ’n paar op sy deksel.

5. Al mik jy na ’n uur, is party vure warmer as ander. Dus jy kan ná so 45 minute loer of hy gaar is.

Steek die brood met ’n skerp mes en as hy skoon uitkom, is die brood reg. As daar nog deeg aan jou mes sit, loer weer oor 15 minute.

6. Nou het jy twee opsies.

Die beste een is om die brood stuk vir stuk uit die potjie te breek en dan saam met botter te geniet.

As jy natuurlik aan die konserwatiewe kant van die spektrum is en glo alle brood moet in netjiese snye voorgesit word, laat die brood toe om af te koel voordat jy hom uitdop.

Dis nogal moeilik om die brood uit die potjie te kry as hy reguit van die vuur af kom – en sulke vars, warm brood is moeilik om te sny.

Hy kan tot 45 minute neem om af te koel en teen daardie tyd het al die slim kinders lankal die brood netso uit die potjie geëet.

En ...

Gesoute botter is beter as ongesoute botter. Dis maar net soos dit is, dalk omdat gesoute botter klink of hy meer ervaring het.

Moet nooit, onder geen omstandighede, hierdie brood met margarien voorsit nie, want margarien is die boosheid self. Dis soos om ’n spieël te breek.

As jy margarien op die mieliebrood smeer, gaan jy sewe jaar se ongeluk hê en daarna nog sewe jaar se groter ongeluk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters