2 maande gelede
RESEPTE: Maalvleis=jafels
tradisie: Hierdie jafel is nie ’n onbeskofte vent nie, hy is ’n antieke deel van Suid-Afrika se kos- en braai-erfenisfoto verskaf  ~ 

JY HET baie opsies vir ’n vulsel, maar die gewildste bly maar die oorspronklikekerriemaalvleis-jafel.

Ek gebruik hierdie resep graag as ek op toer gaan of by ’n piekniek braai.

Die jafels is baie vinnig en maklik om te maak omdat die maalvleis vooraf berei word.

Hierdie resep lewer ses jafels.

Bestanddele:

Maalvleis:

25 ml olyfolie

1 ui, opgekap

500 g maer beesmaalvleis

2 knoffelhuisies, gekneus

1 t. sout

1 t. peper

25 mF medium-sterk kerriepoeier

1 t. borrie

1 t. fyn koljander

1 t. fyn komyn

1 blikkie opgekapte tamaties

25 ml tamatiepasta

12 snye brood

botter om die brood mee te smeer

1 of meer jafelpanne

Metode:

1. Gebruik jou potjie of sommer ’n pot op die stoof om die ui vir ’n paar minute in olyfolie te braai.

2. Gooi dan die maalvleis en knoffel by, sout en peper die spulletjie en braai dit totdat die vleis goudbruin is.

Gebruik jou houtlepel om klonte vleis mee fyn te druk.

3. Gooi die kerriepoeier, borrie, koljander en komyn by en braai ’n minuut of twee lank om die geure te laat loskom.

4. Nou gooi jy die tamaties en tamatiepasta by en laat die potjie so 30 minute lank rustig prut.

Wag totdat die meeste van die vloeistof weggekook het en die spulletjie vir jou dik genoeg lyk.

5. Haal dan die potjie van die hitte af en laat hom afkoel voordat jy die kerriemaalvleis in ’n verseëlbare houer skep waarmee jy kan reis.

Hou dit in die yskas totdat jy die pad vat.

6. Sodra jy is waar jy moet wees, steek jy jou vuur aan.

Terwyl jy wag dat die kole gereed raak, begin jy solank met die broodjies. Maak ses toebroodjies met die kerriemaalvleis en smeer die buitekant met botter.

Sit die maalvleistoebroodjie in jou jafelpan en plaas dit dan direk op die kole vir die beste hitte. Jy kan ook ’n paar kole bo-op die jafelpan pak om die brood eweredig te rooster.

7. Rooster die brood so ag minute lank en draai die jafelpan af en toe om.

Dis maar ’n algemene riglyn en sal afhang van hoe warm jou vuur en die kole is.

Maak die jafelpan oop en loer eerder te vroeg as te laat hoe hy vorder.

Jy kan jou brood dalk aan albei kante botter, maar as hy eers gebrand het, kan jy hom nie in trurat sit nie!

8. Sodra die brood goudbruin aan albei kante is en die maalvleis lekker warm is, is die jafels reg om op te dis.

En ...

Vir bonuspunte kan jy ook cheddarkaas in die jafel sit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters