5 maande gelede
RESEPTE: Liefde kan blom
SOETE LIEFDE: Maak vir jou ou perskebloeiseltjie hierdie smaaklike koek.  ~ Foto Verskaf

SO IN die gees van Valentynsdag plaas ons dié koekresep van Jenny Morris. Hierdie resep lewer ag skywe.

Voer ’n veerklamp-koekpan met ’n deursnee van 23 cm met bak­papier uit en spuit dit goed.

Voorverhit die oond tot 170 °C.

Bestanddele

Die nektariens

4 nice, vet, ferm maar sappige kaalperskes

botter, teen kamertemperatuur

60 ml (4 e.) bruinsuiker

2,5 ml(½ t.) fyn kaneel

Sny die kaalperskes in skywe en sit dit in ’n bak.

Voeg die botter, bruinsuiker en kaneel by. Meng liggies totdat die perskes goed bedek is.

Pak die skywe mooi onderin die koekpan.

Die koek

500 ml (2 k.) meel, drie keer gesif

30 ml (2 e.) bakpoeier

’n knippe sout

125 ml (½ k.) lemoensap

125 ml(½ k.) warm water

450 ml (1¾ k.) suiker

10 ml (2 t.) lemoenskil

250 ml (1 k.) kookolie

6 eiers, geskei

Metode

1. Klits die 6 eierwitte totdat dit punte vorm. Sit eenkant en gaan met die res van die bereiding aan.

2. Meng die lemoensap en warm water. Giet dit in ’n groot bak.

Voeg die suiker en lemoenskil by. Roer goed.

Klits dan die eiergele en voeg dit by die mengsel in die bak, gevolg deur die olie. Roer deeglik.

Meng die meel, bakpoeier en sout in ’n ander bak.

3. Meng die meel- en die eiermengsel. Roer dan ’n paar lepels van die geklopte eierwit in. Wanneer dit gemeng is, kan jy die res van die eierwit liggies invou.

Giet die deeg oor die nektarienskywe in die koekpan. Maak seker dis gelyk.

Bak die koek 40 tot 45 minute lank of totdat ’n pen skoon uit die middel daarvan kom.

4. Haal die koek uit die oond. Laat dit 10 minute afkoel.

Maak die koek met ’n mes van die kant van die pan los. Dop dit op jou opdienbord uit. Die nek­tariens moet nou bo wees.

5. Jy kan die koek warm of koud voorsit. Jy kan dit ook net so voorsit, of met groot skeppe dik, romerige Griekse jogurt of mascarpone.

En die laaste maar nie die minste nie – ’n paar scoops vanilla-roomys sal ook die trick doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters