Verlede maand
RESEPTE: Lamsribbetjies
Hoogtepunt: Hierdie is een van die vleissnitte wat absoluut en ongetwyfeld die beste tot sy reg kom op die braai. Danksy die vetlae in die ribbetjie sal hy nie sommer uitdroog nie.foto verskaf  ~ 

DIÉ resep lewer genoeg lamsribbetjies vir twee mense.

Bestanddele:

1 lamsribstuk

1 suurlemoen se sap

growwe seesout

25 mF Worcestershiresous

kwassie gemaak van roosmaryntakkies (of ’n kombuiskwas)

vars gemaalde swartpeper

Metode:

1. Druk 20 minute voordat jy wil begin braai van die suurlemoensap op albei kante van die ribstuk uit.

Maak seker geen suurlemoenpitte bly op die vleis agter nie.

Maal of strooi seesout oor die ribstuk. As dit nie wil klou nie, tik dit met skoon vingers op die vleis vas.

2. Plaas die ribstuk op die rooster en begin braai.

Jy behoort dit minstens ’n uur te braai, verkieslik ’n uur en ’n half.

Om hierin te slaag, het jy matig hitte nodig, wat beteken die rooster moet hoog wees en die kole makkerig.

Nog ’n gewilde opsie is om ’n toeklaprooster te gebruik en hom vertikaal langs die vuur of kole neer te sit. Sodoende word hy aan net genoeg hitte blootgestel om die vet te smelt en die vleis bros te kry in jou aanbevole 90 minute.

Jy kan ’n ribstuk vinniger braai, maar dan gaan hy nie so sag wees nie.

3. Wanneer jy skat die vleis is amper (80%) gereed, gebruik ’n kwas van roosmaryntakkies om die Worcestershiresous op albei kante van die vleis te verf.

As jy te lui is om so ’n kwas te maak, gebruik ’n gewone kombuiskwas.

4. Om te kyk of die ribstuk reg is, vat die punt van een van die bene stewig vas en skeur die ribbetjie weg van die res. Die ribbetjie behoort redelik maklik los te trek.

5. Haal die ribstuk van die kole af en plaas op ’n snybord of in ’n bak. Sny dit met ’n mes of met ’n kombuisskêr.

Sit die ribbetjies voor saam met sout en peper en eet hulle met die hand.

Plan B

In plaas van Worcestershiresous kan jy 25 mF gekneusde koljandersaad op albei kante van die ribstuk strooi.

As jy nie lus is om die ribstuk 90 minute te braai nie, bak dit 90 minute in ’n toe bak in die oond teen 140 °C.

Braai dan oor die kole vir 20 minute soos jy hoender sou braai terwyl jy die ribstuk verf met Worcestershiresous en suurlemoensap. Voeg sout by soos nodig.

Vermy dit om die ribstuk vooraf in ’n pot water te kook, want só gaan baie van die natuurlike smaak verlore.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters