3 maande gelede
RESEPTE: Kruissnit-kebabs
sappig: Hierdie gereg kan vir vier tot tien dae gemarineer word, maar ek het sewe dae gekies – ’n volle week.foto verskaf  ~ 

GENOEG vir ses mense

Bestanddele:

Kebabs:

1 kg beesvleis kruissnit (in blokkies gesny)

4 rooi-uie

1 rooi soetrissie

1 geel soetrissie

1 groen soetrissie

6 sosatiepenne

Marinade:

1 koppie olyfolie

1 ui (gerasper)

2 knoffelhuisies (gekneus)

2 sopies (50 mF) sojasous

1 sopie (25 mF) rooiwynasyn

1 teelepel droë tiemie

1 teelepel sout

1 teelepel sterk Engelse mosterdpoeier

4 lourierblare (in groot stukke geskeur)

Metode:

1. Meng al die marinadebestanddele in ’n nie-korrosiewe bak of ’n herseëlbare plastieksak. Die enigste moeilike ding van hierdie resep is om die ui te rasper. Al huil jy, druk net deur. Moenie die laaste deel van die ui ook probeer rasper nie – anders rasper jy jouself dalk nerf-af en huil regtig.

2. Sny nou die vleis in blokke en voeg by die marinade. Meng deeglik en sit die marineerbak se deksel op of maak die sak toe (dit hang natuurlik af van watter houer jy gekies het.)

3. Laat dit nou in jou yskas marineer vir sewe dae, ook bekend as ’n week ... Jy kan deur die week die vleis ’n paar keer omdraai as jy lus kry.

4. ’n Week later, wanneer die vuur aan die gang is en jy regmaak om te braai, skil die uie en sny in kwarte.

5. Haal die soetrissies se pitte uit en sny hulle in groot stukke.

6. Ryg die vleisblokkies op die sosatiepenne en wissel hulle af met soetrissiestukke en rooi-uie.

7. Braai die kebabs in ’n toeklaprooster oor warm kole en draai elke nou en dan om totdat die vleis medium-rou is.

Die braaityd moet altesame 8-10 minute wees. Terwyl jy braai, kan jy die kebabs met die marinade verf wat jy oorhet, maar moenie dit in die laaste paar minute doen nie, want jy wil die marinade wat met die rou vleis in kontak was ook tyd gee om gaar te word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters