17 dae gelede
RESEPTE: Kersfeeshoender
Dit is baie beter om met dié hoender oor die kole te werk. Lise het die slim besluit geneem om die resep aan te pas vir ’n alledaagse hoenderbraai.foto verskaf  ~ Verskaf

HIERDIE pêrel kom van Lise in die Paarl. Sy is ’n veteraan van die Nasionale Braaitoer en ’n gesoute braaier.

Lise het oorspronklik die resep uitgedink om ’n kalkoen vir Kersfees te braai, maar een kalkoen maak nie ’n somer nie!

Genoeg vir vier mense.

Bestanddele:

1 heel hoender

25 ml olyfolie

1 ui, fyngekap

2 knoffelhuisies, gekneus en fyngekap

4 varkworsies, die vulsel uit die dermpie gehaal

½ koppie witwyn

1 t. gemaalde swartpeper

12,5 ml droë salie

½ koppie vars broodkrummels (2 snye in ’n voedselverwerker of gerasper)

½ koppie fetakaas, gekrummel

1 eier, geklits

nog olyfolie

growwe sout

1 suurlemoen se sap

Metode:

1. Vir die vulsel, verhit die olyfolie in jou vuurvaste pan of potjie en braai die ui tot sag en deurskynend.

2. Gooi die knoffel en varkvleis, wat jy uit die worsies gehaal het, by.

Roerbraai ’n paar minute lank tot ligbruin en gebruik jou houtlepel om enige klonte varkvleis fyner te druk.

3. Gooi nou die wyn, swartpeper en salie by. Roer die spulletjie en kry dit aan die prut.

Ná vyf minute haal jy dit van die hitte af en laat dit afkoel. Roer dan die broodkrummels, fetakaas en eier by. Jou vulsel is nou gereed.

4. Was jou hande en maak die hoender plat.

Vat ’n skerp vleismes, koksmes of skêr en verwyder die ruggraat.

Dis baie makliker as wat dit klink. Sny dit sommer net uit – daar is baie min wat verkeerd kan loop.

Breek nou die hoender oop, draai hom om en druk hom met jou hande plat.

5. Nou gebruik jy jou vingers om die hoender se vel van die vleis los te trek. Dis ook makliker as wat dit klink.

6. Vat dan ’n handvol vulsel en druk dit onder die hoender se vel in, sodat dit tussen die vel en die vleis sit.

Jy wil vulsel op die borsies, dye, weerskante van die boudjies – basies orals – hê!

As daar nog vulsel oor is, probeer ’n bietjie harder en stop dit in waar jy ook al ’n gat kry.

En as daar dan steeds vulsel oor is, rol dit in bolletjies en braai in ’n pan as ’n voorhappie.

7. Vryf nou die hele hoender met olyfolie in en maal growwe sout op al sy kante.

8. Dis tyd om te braai. Sit die hoender in ’n toeklaprooster – alle gesoute braaiers weet mos jy moenie ’n hoender te rof braai nie.

Gebruik medium-warm kole en stel jou rooster redelik hoog.

Draai die hoender gereeld om en druk suurlemoensap daaroor uit wanneer jy ook al verveeld raak terwyl jy braai.

9. Jou doel is om die hoender so 45-60 minute te braai.

Teen dan behoort hy goudbruin en heelpad tot teen die been gaar te wees.

Die maklikste manier om te weet of hy reg is, is natuurlik om jou digitale kitslees-vleistermometer by die dikste deel langs die been in te druk en te kyk of hy so 80 °C is.

10. Nou kan jy die hoender van die kole afhaal en hom ’n paar minute laat staan.

Dan kan jy hom voorsit saam met al die dekadente bykosse wat jy geniet by ’n Kersfeesmiddagete, verjaardagaandete of die gewone Suid-Afrikaanse braai!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters