4 maande gelede
RESEPTE: Gevulde lendestuk
INNOVEREND: As gevolg van ’n kombuis-opknappery moes Danie en sy vrou noodgedwonge elke aand braai. In daardie jaar van intensiewe braainavorsing het hulle hierdie resep ontwikkel. foto verskaf  ~ 

DIÉ resep wat ek by Danie en sy vrou gekry het, lewer genoeg vir 8 tot 10 mense.

Bestanddele:

2,5 kg heel lendestuk (sirloin)

1 ui, opgekap

250 g sampioene

3 knoffelhuisies, gekneus en opgekap

25 mF olyfolie

1 t. paprika

1 t. swartpeper

1 t. sout

1 t. droë origanum

1 t. droë pietersielie

25 mF worcestersous

1 suurlemoen se sap

125 g bloukaas, gekrummel

wit slagterstou, in lengtes gesny

Metode:

1. Roerbraai die ui, sam­pioene en knoffel saam in ’n bietjie olie of botter tot ligbruin. Sit dit dan eenkant om af te koel.

2. Gebruik jou beste, skerpste mes en sny die lendestuk aan die een kant oop, halfpad tussen sy bokant en sy onderkant.

Sny dit soos jy ’n worsbroodjie se rolletjie sou oopsny, maar met ’n stuk steak.

Jy wil mooi diep sny, maar nie ál die pad deur nie. Vlek nou die stuk vleis oop.

3. Meng die olyfolie, paprika, swartpeper, sout, origanum, pietersielie, worcestersous en suurlemoensap en vryf die hele binnekant van die steak deeglik daarmee in.

So, om weer die voorbeeld van ’n worsbroodjie te gebruik, jy vryf die kruiemengsel waar jy die broodrolletjie sou botter.

4. Sprei die sampioene, uie en knoffel op die onderste helfte van die vleis uit.

5. Nou sit jy die bloukaas bo-op die uiegroepie.

6. Vou nou weer die vleis se boonste flap oor die onderste een toe, soos ’n boek, sodat hy weer sy oorspronklike vorm het, maar met baie lekker dinge tussenin.

7. Gebruik die stukke wit slagterstou om lusse om die vleis te trek totdat jy tevrede is dinge gaan nie op die kole uitmekaarval nie.

8. Maal of strooi sout en peper alkante oor die buitenste deel van die vleis – en dan is dit kole toe.

9. Braai die vleis oor warm kole vir so 30 minute tot medium-rou en draai hom gereeld om. Die vleis is reg wanneer jou digitale kitslees­-vleis­termometer se lesing in die middel van die dikste deel so 55°C is. Dan haal jy hom van die rooster af.

10. Jy hoef nie die vleis gedurende die braai met sous te verf nie, maar as jy ’n sous het waarvan jy hou, kan jy dit gebruik.

11. Laat die vleis rus en sny hom dan in enkelporsies.

En ...

Danie stel voor jy dien hierdie gereg op met ’n roket-en-tamatieslaai en gebraaide patats as ’n bykos.

Jy draai net die patats in foelie toe, laat hulle vir 30 minute oor die kole sit en draai hulle af en toe om.

So, eers draai jy hulle toe, en dan draai jy hulle af en toe om!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters