2 maande gelede
RESEPTE: Garnaalkerrie
wenner: Dié resep kom van Hilton af – en elke keer as dit sy beurt is om kos te maak vir sy braaiklub, hou die ander lede duim vas dat hy dié potjie maak. foto’S verskaf  ~ 

DIÉ resep lewer genoeg vir vier mense.

Bestanddele:

1 t. fyn borrie

1 sopie (25 mF) medium-sterk kerriepoeier

4 knoffelhuisies (gekneus en opgekap)

vars gemmer, in volume net soveel as die knoffel (rofweg opgekap)

4 hoenderborsies

½ sopie sout

1 sopie olie

2 uie (fyngekap)

400 mF-blikkie klappermelk

1 t. droë tiemie

1 pakkie (50 g) tamatiepasta

20 garnale (binnegoed uit)

1 lemmetjie (se sap)

vars koljander (opgekap, vir versiering)

Metode:

1. Meng die borrie en kerriepoeier met net genoeg water om ’n pasta daarvan te maak. (Ons praat nie van noedels nie, hierdie pasta is ’n smeerbare mengsel.)

2. Skil die knoffel en gemmer en dan kneus, kap, rasper of mishandel jy dit, hoe jy ook al lus het.

3. Sny elke hoenderborsie in ’n paar groot hompe en gooi sout oor.

4. Verhit die olie in jou potjie en braai die hoender tot hy ’n goue kleur het. Gooi dan die uie, knoffel en gemmer by en laat die spulletjie sweet tot hulle sag is.

5. Gooi die kerrie-en-borrie-pasta by en braai so 2-3 minute om die geure te laat loskom. Gaan vinnig aan na die volgende stap voordat enige iets brand.

6. Gooi die klappermelk, tiemie en tamatiepasta by. Gebruik jou lepel en die vloeistof om enige iets wat onderin die pot vassit, los te krap sodat dit nie brand nie. Sit nou die deksel op en laat die potjie prut 30 minute.

7. Nou voeg jy die garnale by en roer hulle rond saam met die res van die kerrie.

8. Laat die kerrie so aanhou prut totdat die garnale gaar is, wat net ’n minuut of drie sal neem.

9. Gooi die lemmetjiesap by en as jy dink dis nog nodig, strooi nog sout en peper na smaak oor.

10. Sit die kerrie voor met rys, vars broodrolletjies of roosterkoek en rond dit af met vars koljander.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters