4 maande gelede
RESEPTE: Deksels goeie seekospotjie
sdvFoto:  ~ 

NIKS klop die aanloklike geur en watertandlekker smaak van ’n seekospotjie nie.

Potjiekos is al baie lank deel van ons kultuur. So, vat jy gerus ook jou tyd. Hoe langer die potjie kook, hoe beter smaak hy.

Dié resep maak genoeg kos vir ses mense.

BESTANDDELE

3-4 uie

olyfolie

3 knoffelhuisies, gekap

2 groen soetrissies, gekap

1 rooi soetrissie, gesny

3-4 e. (45-60 ml) vis­masala

1 x 410 g-blik gekapte tamaties

1 kg porsies koningklip of monkfish, gesny in blokkies van 3-4 cm

350 g calamari-ringe

200 g mossels

200 g garnale met kop, maar are uitgeskraap

vars gekapte koljanderblare vir garnering

METODE

1. Plaas die potjie op die vuur om te verhit. Giet die olie in.

2. Skep die knoffel in sodra dit rook en soteer 5 minute. Roer gedurig om te keer dat dit brand.

3. Skep die soetrissies in en soteer nog 5-10 minute. Voeg die vismasala by en roer.

4. Voeg die tamaties by en verhit 10 minute. Pak die seekos in lae in. Begin met die visporsies, gevolg deur die res van die bestanddele.

5. Sit die potjie se deksel op en laat dit 15-20 minute oor matige hitte prut. Reguleer die hitte. Skuif die kole/hout rond om te keer dat die potjie te veel direkte hitte kry. Vat die potjie weg van die hitte sodra die seekos gaar is. Sprinkel die koljander oor.

6. Sit voor met braaibrood of bros Portugese broodrolletjies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters