2 maande gelede
RESEPTE: Cowboy chilli con carne
Sonder fieterjasies: Wat my opval van hierdie resep, is die eenvoudige bestanddele.foto verskaf  ~ 

DIÉ resep is genoeg vir 6-8 mense.

Bestanddele:

2 uie, opgekap

50 mF olyfolie

1 kg beesmaalvleis

2 t. droë gemengde kruie

1 t. sout

1 t. peper

1 t. brandrissiepoeier

4 knoffelhuisies, gekneus en opgekap

1 vars brandrissie, of meer (opsioneel)

2 blikkies opgekapte

tamaties

1 pakkie tamatiepasta

1 blokkie beesvleisaftreksel

1 k. water

1 blikkie rooi nierboontjies, vloeistof uit en afgespoel

1 blikkie heelpitmielies, vloeistof uit

sout na smaak

Metode:

1. In jou potjie op die vlamme braai jy die uie in olyfolie totdat hulle deurskynend is. As jy in ’n uithoek van die wêreld sonder olyfolie is, gebruik botter.

Maar moet dit nie met margarien waag nie, want dit sal jare se braai-ongelukkigheid beteken, soos nat hout, warm bier en steekse aanstekers.

2. Gooi nou die beesmaalvleis by en braai totdat die vleis bruin raak.

Gebruik jou houtlepel om enige klonterige stukke vleis fyner te druk.

3. Voeg nou die gemengde kruie, sout, peper, brandrissiepoeier, knoffel en, as jy lus het, vars gekapte brandrissies, by. Gooi net laasgenoemde by as jy hou van ’n maaltyd met skop.

Meng alles deeglik en laat die kruie en speserye ’n bietjie rooster.

4. Gooi die blikkies tamaties en tamatiepasta by en roer.

5. Los nou die beesvleis­aftreksel in ’n koppie kookwater op en meng dit by.

6. Sit die pot se deksel op en laat prut vir 30 minute.

7. Haal die deksel af, meng die nierboontjies en mieliepitte by en laat prut so sonder die deksel totdat jy tevrede is met hoe dik die spulletjie is.

8. Intussen kan jy proe en sout byvoeg as jy dink dit is nodig.

Onthou dat die blikkieskos en die beesvleisaftreksel dit al klaar souterig maak, so nóg sout is dalk nie nodig nie.

En...

Dien hierdie gereg op met vars brood of roosterkoek.

En as jou winkel dit aanhou, gee elke porsie ’n leksel suurroom en – as ’n bonus – opgekapte vars koljander.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters