11 dae gelede
RESEPTE: Braaibroodjies
’n wenner: Dié resep is in hotelkombuise uitgedink, het in sportkubs ’n treffer geraak en is op die braaivleisvuur vervolmaak.foto verskaf  ~ 

DIÉ resep lewer genoeg braaibroodjies vir ses mense.

Bestanddele:

1 gesnyde witbrood (minstens 18 snye)

4 hoenderborsies

braai- of hoenderspeserye

1 pakkie (200 g) spek

botter (om die snye brood te smeer)

1 koppie mayonnaise

50 ml mosterd

250 g kaas (cheddar, gouda of iets soortgelyks, gerasper)

4 tamaties (in skywe gesny)

gemaalde swartpeper

2 avokadopere

12 sosatiepenne

Metode:

1. Strooi jou gunstelingbraai- of -hoenderspeserye of sommer net sout en peper oor die hoenderborsies.

Braai nou die hoenderborsies oor warm kole en draai gereeld om tot gaar. Dit sal so ag minute neem.

2. Terwyl jy die hoenderborsies braai, braai ook die spek op die rooster oor dieselfde warm kole.

Jy hoef elke repie spek net een keer om te draai. Spek braai baie lekker en raak lieflik bros op ’n braairooster.

3. Nou botter jy 18 snye brood aan die een kant en lê die helfte van daardie snye op ’n skinkbord neer met die botterkant ondertoe.

4. Sny, kap of skeur die vier gebraaide hoenderborsies in stukke en meng die vleis met die mayonnaise en mosterd.

Deel dan die hoender-en­mayonnaisemengsel tussen die nege snye brood wat jy uitgepak het en smeer dit eweredig oor elke sny.

5. Deel nou die spek, ge­ras­perde kaas en tamatieskywe eweredig tussen die nege snye hoender-en-mayonnaise-bedekte brood.

6. Maal die swartpeper oor die spulletjie en pak die ander nege snye brood met die botterkant boontoe, elkeen op ’n maatjie.

7. Sit die nege toebroodjies in ’n toeklaprooster, braai oor medium kole en draai gereeld om.

Die buitekante moet goudbruin wees en die binnekant goed warm, met die kaas gesmelt.

Haal van die vuur af en uit die rooster uit.

8. Bou drie identiese torings uit drie braaibroodjies elk en met ’n lagie avokado tussen elke broodjie.

Skil die avokado’s, haal die pit uit en druk die vrug fyn. Smeer die helfte van die fyngedrukte avo bo-op drie van die braaibroodjies.

Pak dan nog ’n braaibroodjie op elkeen, dan die res van die avo. Laastens sit jy ’n derde braaibroodjie op die lagie avo.

9. Nou behoort jy drie identiese torings te hê. Elke toring behoort ses snye brood in te hê met lekker lagies hoender-en-mayonnaise, spek, kaas, tamatie en avo tussenin.

10. Kyk die torings nou so en skat hoe jy hom in kwarte sou deel.

Steek sosatiepenne in die vier kwarte van elk van die torings en gebruik nou ’n groot mes om elk van die torings in vier te deel.

11. Skep die maaltyd op met twee sosatiepen-porsies per persoon.

En ...

As jy lus is vir ’n bykos, eet aartappelslaai, koolslaai of gewone ketelgebraaide aartappelskyfies daarby.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters