Verlede maand
RESEPTE: Braai jou snoek só
koningskos: Jan Braai wys jou hoe om ’n snoek lekker oor die kole te braai. foto verskaf  ~ 

HIER is Stiaan se klassieke manier om snoek op die kole te braai.

Ek het dit ’n bietjie verander om ’n snoekbraairesep uit die boonste rakke te skep.

Dit is genoeg vir vier tot ses mense.

Bestanddele:

1 vars snoek, skoongemaak, maar met die vel aan

olyf- of sonneblomolie

sout en peper, na smaak

Vir die aanverfsous:

75 ml botter

75 ml appelkooskonfyt

75 ml suurlemoensap

6 knoffelhuisies, gekneus en opgekap

25 mlworcestershiresous

vars pietersielie, opgekap (vir opdiening)

vars suurlemoenwiggies, (vir opdiening)

Metode:

1. Kry die vuur aan die gang wanneer jy reg is.

Gooi al die bestanddele vir die sous in ’n klein pot of pan en sit dit op die vuur.

Laat die sous smelt en meng dit totdat dit lekker glad is en begin prut.

2. Verf of vryf die snoek aan al sy kante met olie en maal nou sout en peper oor die vleiskant.

3. Jy het nie foelie nodig nie en kan die snoek “oop” of “gevlek” in ’n toeklaprooster sit sodat die een kant net vel en die ander kant net vleis is.

4. Vou die rooster toe en laat die vleiskant so 3 minute kole toe kyk om warm te raak en te verkleur van pienk na wit met ’n paar bruin sproete.

5. Ná die aanvanklike drieminuut-sarsie om die vleiskant welkom te heet, draai die rooster om en laat die velkant kole toe kyk vir die volgende 10 minute.

Maak in dié 10 minute die rooster oop om die vleiskant, wat boontoe kyk, ordentlik met die sous te verf.

Jy wil hê die snoek moet in hierdie posisie wees totdat hy in werklikheid gaar is (10 minute is ’n riglyn).

Draai

Jy sal sien die vleis verander van kleur terwyl hy gaar word. Hy raak ook stywer en begin kraak.

Teen die tyd dat hy vlok wanneer jy hom met ’n vurk steek en draai, is hy beslis gaar; eintlik al té gaar. Moet dus nie so lank wag nie.

6. Wanneer jy dink die snoek is omtrent reg, wat so 13 minute behoort te wees nadat jy hom die eerste keer op die vuur gesit het, vou weer die rooster toe.

Draai nou die snoek om sodat sy sousgeverfde vleis nog een keer kole se kant toe kan kyk vir so 2 minute om die suikers in die sous te laat karamelliseer.

7. Draai die rooster vir oulaas om sodat die velkant ondertoe wys as jy wil opskep.

Strooi varsgekapte pietersielie oor en druk suurlemoensap oral oor die snoek uit.

8. Skep die snoek van die rooster af met ’n spatel.

Skop vas teen die versoeking om die snoek met ’n skêr in netjiese reghoekige porsies te sny soos jy dalk al by sommige oningeligte seekosrestaurante gesien het.

Om ’n snoek se grate in kleiner stukke te sny, is ’n gevaarlike speletjie, want dan kan een dalk in jou keel vassit – en ’n Weskus-kliniek is glad nie pret op ’n Saterdagmiddag nie.

9. Die vel sal geskroei wees en sit dalk aan die rooster vas. Dis heeltemal reg so. Lig die snoek se vleis van die vel af as jy opskep.

Die snoekvel was ’n natuurlike geurgewende foelie en het sy doel gedien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters