23 dae gelede
RESEPTE: Bone-en-lensie-dis
smaaklik: Al is ek nou nie enige ou se definisie van ’n vegetariër nie, is hierdie kerrie vir my regtig lekker.foto verskaf  ~ 

OORKANT die Nasionale Braaihoofkwartier is daar ’n Indiese restaurant waar ek en my kollegas dikwels eet wanneer ons wel op kantoor is en nie die land plat toer om te braai nie.

Ná weke op die pad, en baie vleisbraai, bestel ek al hoe meer dié bone-en-lensiekerrie by die restaurant.

Dis doodeenvoudig ’n goeie resep wat toevallig geen vleis in het nie. Sit dit as ’n hoofgereg voor of as ’n bykos wanneer jy braai.

Dit is genoeg vir vier tot ses mense.

Bestanddele:

50 mF olyfolie

1 ui, opgekap

2 knoffelhuisies, gekneus en opgekap

1 koppie lensies

50 mF mediumsterk

kerriepoeier

25 mF fyn koljander

25 mF fyn komyn

25 mF paprika

1 t. borrie

400 g botterskorsie (butternut), geskil en opgekap

300 g patats, geskil en opgekap

1 blikkie gekapte tamaties

1 pakkie (50 g) tamatiepasta

1 blikkie (400 mF) klappermelk

1 koppie groente-aftreksel

1 blikkie kekerertjies (chickpeas), gedreineer en afgespoel

1 blikkie nierboontjies, gedreineer en afgespoel

sout en peper (na smaak)

Om mee op te dien:

vars koljander

suurroom of dubbelroom-jogurt

Metode:

1. Verhit die olie in jou potjie op die vuur en braai die ui tot deurskynend.

2. Gooi nou die knoffel, lensies en al die speserye by. Braai vir nog ’n minuut of twee, maar gaan aan na die volgende stap voordat die speserye brand.

As dinge taai raak en wil brand, gooi ’n bietjie water by om in beheer van sake te kom.

3. Gooi nou die botterskorsie en patats by en meng met die res van die bestanddele in die potjie.

4. Gooi die tamaties, tamatiepasta, klappermelk en groente-aftreksel by­. Roer die spulletjie tot dit gemeng is en sit die deksel op.

5. Laat dit nou prut vir 15 minute en gooi dan die kekerertjies en nierboontjies by. Meng die spulletjie en sit weer die deksel op.

6. Laat dit so prut oor medium hitte vir minstens 30 minute tot die groente sag en deurgaar is.

Terwyl die potjie so prut, kan jy die deksel af en toe oplig om rustig met jou houtlepel oor die bodem van die pot te roer.

Jy wil nie hê dinge moet uitmekaar val nie, maar jy wil ook nie hê enigiets moet aan die bodem vassit en brand nie.

7. As jy in enige stadium voel die potjie raak droog en dreig om te brand, gooi water by. Dit behoort darem nie die geval te wees nie.

8. Proe aan die potjie en gooi sout en peper by.

9. Dien op met vars koljander en suurroom of dubbelroom-jogurt.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters