6 maande gelede
RESEPTE: Blom met 'n bredie-pot
dgFoto:  ~ 

IN MENIGE huis is waterblommetjiebredie ’n gunsteling. Jy kan dit ook as ’n potjie aanpak. Die twee is eintlik maar dieselfde – albei kook saggies. Dié resep maak genoeg kos vir ses tot ag mense.

BESTANDDELE

2 e (30 ml) sonneblomolie

1,5 kg lamsvleis (aan been)

4 middelslag-uie, gekap

1 knoffelhuisie, gebreek

2 heel naeltjies

1 klein stokkie kaneel

2 t (10 ml) sout

1 groot knippie vars gemaalde swart peper

1 lourierblaar

1 e (15 ml) meel

1 1/4 k (so 310 ml) warm beesvleisaftreksel

500 g waterblommetjies, deeglik gewas, en stingels af

6 gaar, geskilde middelslag-aartappels, in kwarte gesny

METODE

1. Verhit die olie. Braai die lam tot bruin. Voeg die uie en knoffel by. Braai tot sag.

2. Voeg die speserye en lourierblaar by. Braai 2 minute. Strooi die meel oor die vleis-en-uie-mengsel en braai. Roer ’n paar keer om seker te maak die meel braai liggies.

3. Verminder die hitte. Giet die aftreksel by. Sit die deksel op en laat 90 minute prut.

4. Skep die waterblommetjies en aartappels by. Laat prut nog 30 minute of totdat die waterblommetjies sag is. Roer so min moontlik wanneer die aartappels eers by is, anders kan hulle breek. Smaak­like ete!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters