Verlede maand
RESEPTE: Bief en groente
VOL GOEDHEID: Bief jou spyskaart op met hierdie heilsame en doodmaklike oondgereg.  ~ Foto Verskaf

DIÉ heilsame, stewige oondgereg is propvol groente en net die regte ding vir ’n groot gesinsete.

Die resep maak genoeg vir 4 tot 6 mense.

Bestanddele:

2 aartappels, in klein blokkies gesny

1 ui, gekap

1 wortel, gerasper

sonneblomolie

1 knoffelhuisie, gekap

halwe bossie spinasie, gekap

1 x 300 g-blik boeliebief, in blokkies gesny

1 x 410 g-blik tamatie-en-uie-mengsel

50 g tamatiepasta

1 ml (¼ t) gemaalde neutmuskaat

sout

peper

4 murgpampoentjies, gesny

125 ml (½ k) broodkrummels

125 ml(½ k) cheddar, gerasper

Metode:

1. Kook die aartappelblokkies stadig in soutwater tot sag. Dreineer en hou eenkant.

2. Braai die ui en wortel in ’n bietjie verhitte olie tot sag. Voeg die knoffel en spinasie by en roerbraai totdat die spinasie sag is. Voeg die boeliebief, tamatie-en-uie-mengsel en tamatiepasta by en laat 5 minute prut. Voeg die neutmuskaat by en geur na smaak met die sout en peper. Skep die mengsel in ’n gesmeerde oondbak.

3. Verhit ’n bietjie olie in ’n pan. Braai die aartappelblokkies en murgpampoentjies tot sag. Skep al die groente op die biefmengsel.

4. Meng die broodkrummels en kaas en sprinkel oor die groente.

5. Plaas die bak in ’n voorverhitte oond en bak die gereg teen 180 °C totdat die groente-bolaag krakerig en effe bruin is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters