7 maande gelede
Njammie muffins met 2 soorte kaas
maklik: Dié muffins lyk na harde werk, maar dit is nie.FOTO VERSKAF  ~ 

BEDERF jou huismense met geurige muffins! Hierdie maklike resep lewer 16.

Bestanddele:

240 g bruismeel

3 mF sout

10 mF (2 t) bakpoeier

1 bakkie rosatamaties

60 g basil pesto

2 wiele fetakaas, in blokkies gesny

100 g mozzarellakaas, ge­rasper

sout en peper

1 eier

300 mF melk

50 mF botter, gesmelt en nog ekstra vir smeer

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C.

Bespuit twee klein muffin­panne met baksproei.

1. Sif die bruismeel, sout en bakpoeier saam in ’n mengbak.

2. Meng die helfte van die tamaties, die helfte van die pesto en ál die feta en mozzarella in ’n aparte bak. Geur na smaak met die sout en peper.

3. Voeg by die meelmengsel en meng dit liggies met ’n vurk deur.

3. Klits die eier, melk en botter liggies met ’n vurk in ’n beker. Voeg dit by die meel-en-tamatiemengsel en roer ’n paar keer met die vurk deur.

4. Skep die beslag in die panholtes, plaas ’n tamatie op elkeen, skep die res van die pesto oor en bak 25-30 minute.

5. Haal uit die oond, verf die gesmelte botter oor die muffins en plaas weer vir ’n minuut in die oond. Laat sowat 5 minute in die pan afkoel.

Eet dit warm of koud.

DIÉ week plaas ons ’n resep van Corli Botha. Dit kom uit Errieda du Toit se kookboek Koekedoor 2, wat deur ­Human & Rousseau ge­publiseer is. As jy ’n resep het wat jy met die lesers wil deel, SMS “KOOK” na 31447. Ons sal jou help om jou resep neer te skryf en foto’s van die eindproduk in Son op Sondag te plaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters