4 maande gelede
’n Potjie beesstert
KONINGSKOS: Dit vat ure om dié potjie tot perfeksie te kook.FOTO VERSKAF  ~ 

AS JY so dikwels soos ek braai, begin jy met jou eie resepte eksperimenteer – selfs daardie resepte wat volgens jou klaar perfek is.

En so gebeur dit dat ek een wintermiddag lus raak vir ’n beesstertpotjie. Ek dink egter toe ook dis darem die tipe weer vir my klassieke Suid-Afrikaanse tamatiebrediepotjie, wat ’n mens tradisioneel met lam maak.

En so is die beesstert-tamatiebrediepotjie gebore, ’n splinternuwe SA gunsteling.

WAT JY NODIG HET

(vir ses mense)

2 kg beesstert

2 sopies olyfolie

½ sopie witbrood­ of koekmeel

½ sopie sout

1 teelepel peper

1 ui (opgekap)

2 knoffelhuisies (gekneus en opgekap)

1 kg tamaties (opgekap)

1 pakkie (50 g) tamatiepasta

½ sopie suiker

½ sopie asyn of suurlemoensap

1 koppie beesvleisaftreksel

2 lourierblare

2 aartappels (in kwarte gesny)

Stampmielies, mieliepap of rys (om mee te bedien)

LAAT WAAI

1. Verhit die olie in jou potjie op die vuur en braai die beesstert-stukke bruin.

2. Sodra die beesstert vir jou lekker lyk, strooi die meel, sout en peper oor die vleis en wikkel die spulletjie rond.

3. Gooi nou die ui en knoffel by en braai totdat die ui vir jou lekker lyk.

4. Gooi al die tamaties, tamatiepasta, suiker, asyn (of suurlemoensap), asook die beesvleisaftreksel en lourierblare, by en meng dit deeglik.

5. Sit die deksel op en laat dit 4 uur lank rustig prut. Loer so elke 30 minute of daar nog genoeg vloeistof in jou pot is en gooi ’n bietjie water by as dit vir jou droog lyk. Hoe langer en stadiger dit kook, hoe lekkerder gaan dit wees.

6. Ná sowat 4 uur, gooi die aartappels by, meng alles deur en sit die deksel weer op. Nou moet jy dit laat prut totdat die vleis en die aartappels lekker sag is, wat nog ’n uur of twee behoort te neem.

7. Sit die bredie warm voor uit die potjie met stampmielies, rys of mieliepap daarby.

DIÉ week se resep kom weer uit Jan Braai se boek Shisa­­nyama: Braairesepte van Suid-­ Afrika. As jy nog resepte van dié bobaas-braaier wil sien, moet jy nie sy show, Jan Braai vir Erfenis, elke Vrydag 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) misloop nie.

Vandag se resep wys jou hoe jy ’n smullekker potjie beesstert-tamatiebredie aanmekaar kan slaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters