5 maande gelede
Meringue-cupcakes
LEKKER ÉN MOOI: Die Italiaanse meringue gee die cupcakes ’n smaaklike kinkel. FOTO VERSKAF  ~ 

DIÉ resep lewer 12 cupcakes.

BESLAG

250 g sagte botter

450 mF strooisuiker

5 eiers, geskei

250 mF dubbelroom-jogurt

700 mF bruismeel

2,5 mF sout

5 mF bakpoeier

ITALIAANSE MERINGUE

400 g strooisuiker

60 mF water

4 eierwitte

125 mF versiersuiker

BESLAG

1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer twee cupcake-panne.

2. Klits die botter tot romerig en voeg die suiker geleidelik by.

3. Klits die vyf eiergele in ’n aparte bakkie en meng by die bottermengsel in. Voeg die jogurt by en meng deur.

4. Sif die bruismeel, sout en bakpoeier twee keer saam in ’n aparte bak. Voeg die meelmengsel by die botter-en-eiermengsel en meng goed deur. Moenie te veel klop nie.

5. Klits die eierwitte styf in ’n aparte bak. Meng ¼ van die eierwit by die beslag in om dit losser te kry.

6. Vou dan die res van die eierwitte met ’n metaallepel liggies deur die beslag.

7. Vul die holtes van die twee cupcake-panne driekwart vol.

8. Bak 15 minute of tot gaar. Laat afkoel.

ITALIAANSE MERINGUE

1. Giet die suiker en water in ’n kastrol en laat smelt. Verf die kante met ’n kwassie om versuikering te keer.

2. Kook die mengsel tot by 115°C op ’n suikertermometer.

3. Klits die eierwitte styf. Giet die stroop by die eierwitte terwyl dit op hoë spoed geklits word.

4. Hou aan klits totdat die mengsel redelik afgekoel is. Voeg dan die versiersuiker by en meng goed in.

5. Gebruik swart jel en verf ’n paar swart strepe aan die binnekant van ’n spuitsak.

6. Skep die mengsel in die spuitsak en versier die cupcakes.

FONDANT-MUSIEKNOTE EN VERSIERING

Vorm wit-en-swart musieknote en klavierklawers uit fondant. Plaas op die versierde cup­cakes en strooi ’n bietjie glansstof oor om dit ekstra-mooi te maak.

DIÉ week plaas ons ’n resep van Corli Botha. Dit kom uit Errieda du Toit se kookboek Koekedoor 2, wat deur ­Human & Rousseau ge­publiseer is. As jy ’n resep met die lesers wil deel, SMS “KOOK” na 31447. Ons sal jou help om die resep neer te skryf en die foto’s van daardie eindproduk in Son op Sondag te publiseer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters