9 maande gelede
Melktert-sigare is njam, warm of koud
HEMELS: Dié sigare is ’n heerlike soetigheid vir afternoon tea.FOTO VERSKAF  ~ 

Lewer 18 rolletjies

BESTANDDELE

STROOP

500 mF suiker

500 mF water

1 kaneelstokkie

2 skywe suurlemoen,

ongeveer 1 cm dik

VULSEL

750 mF melk

125 mF suiker

150 mF koekmeel

3 eiers, effe geklits

15 mF vanieljegeursel

ekstra fyn gerasperde skil

van 1 suurlemoen

50 g botter

ROLLETJIES

9 velle fillodeeg

125 mF gesmelte botter

50 mF gevlokte amandels

METODE

Kook al die bestanddele 15 minute saam en laat heeltemal afkoel.

VULSEL

1. Meng 250 mF van die melk saam met die suiker en meel tot ’n gladde mengsel.

2. Giet die res van die melk in ’n kastrol en verhit tot kookpunt. Haal dit van die stoofplaat af en roer eers die meelmengsel by, dan die eiers, geursel en suurlemoenskil.

3. Plaas die mengsel terug oor matige hitte en roer tot dit kook en verdik. Haal van die stoofplaat af en roer die botter in.

4. Skep die vulsel op ’n bakplaat en maak toe met kleefplastiek (die plastiek moet aan die oppervlak van die vulsel raak). Verkoel tot yskoud.

ROLLETJIES

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n bakplaat of voer uit met ’n Silpat-bakmat.

2. Smeer drie fillovelle op ’n slag elk met botter en stapel opmekaar.

3. Deel en sny die fillolae in ses ewe groot reghoeke.

4. Vulsel: Plaas die vulsel in ’n spuitsak met ’n ronde 1 cm-spuitpunt.

Spuit ’n laag van die vulsel oor die lengte van elke reghoek (moenie oor die hele lengte spuit nie – los sowat 2 cm oop aan die bo- en onderkante). Spuit die vulsel meer na links.

Vou die bo- en onderkante bo-oor die vulsel om dit in te seël. Let wel: Smeer die hele reghoek met botter. Rol op in lang rolletjies (sigare).

5. Plaas op die gesmeerde bakplaat met die naat van die rolletjies na onder. Verf elkeen met gesmelte botter en sprinkel die gevlokte amandels bo-oor. Bak sowat 20 minute tot goudbruin.

6. Stroop: Giet die yskoue stroop oor die melktert-rolletjies sodra dit uit die oond kom. Dien warm of koud op.

DIÉ week plaas ons ’n resep van Christine Capendale. Dit kom uit Errieda du Toit se kookboek Koekedoor 2, wat deur ­Human & Rousseau ge­publiseer is. As jy ’n resep het wat jy met die lesers wil deel, SMS “KOOK” na 31447. Ons sal jou help om jou resep neer te skryf en foto’s van die eindproduk in Son op Sondagte plaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters